Leon Victor (skoolhoof van die Hoërskool Diamantveld) hou dié skool se eerbewyse as die beste akademiese skool in die Noord-Kaap en die Frances Baard-distrik vas. By hom is Rian-Marie Coetzee (sewe onderskeidings en beste presteerder in ekonomie), Bea Kruger (sewe onderskeidings) en Talitha Fourie (agt onderskeidings). Talitha, die skool se dux-leerling, tel onder die provinsie se 20 topleerlinge. Sy beklee die 12de plek.

Foto: Helena Barnard

Met ’n 100%-slaagsyfer en tien A-kandidate in die nasionale senior sertifikaateksamen is die Hoërskool Diamantveld in Kimberley as verlede jaar se akademiese topskool in die Noord-Kaap aangewys.

Dié eer het Diamantveld in 2016 laas te beurt geval. Die skool is ook as die topskool in die Frances Baard-distrik en die beste presteerder in ekonomie aangewys.

“Ons is dankbaar dat elkeen van ons 128 matrieks geslaag het,” sê Leon Victor, skoolhoof.

Hy reken die skool se sukses is deur uitstekende personeel aangehelp.

Met die aanvang van die nasionale inperking in 2020 – toe verlede jaar se matrieks in gr. 11 was – het Diamant­veld baie goed in aanlyn klasse begin vaar. Dit het leerlinge gehelp om volle akademiese tyd te geniet.

“Tog was daar ook uitdagings, soos leerlinge wie se ouers aan Covid-19 oorlede is,” sê Victor.

Hoewel die onderwysers en die leerlinge aan die einde van die jaar moeg was, is uitstekende resultate gelewer.

  • Nege skole in die provinsie spog met ’n 100%-slaagsyfer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article