Werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit doen herstelwerk.

Foto: Verskaf

Teen vroegaand van Vrydag 24 November behoort inwoners van laerliggende dele van Kimberley weer water in die krane te begin kry, terwyl hoërliggende dele dié basiese noodsaaklikheid eers op Saterdag vanaf ongeveer 18:00 kan verwag.

Die leegpomp van ruimtes waar die herstelwerk gedoen is, was glo baie tydrowend.

Die burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Kagisho Sonyoni, het Vrydagmiddag tydens ’n nuuskonferensie gesê beduidende vordering is gemaak met die noodherstelwerk van hoofsaaklik twee groot waterlekke wat daartoe bygedra het dat die Newton-reservoirs nie na behore gevul kan word nie.

Sonyoni sê die massiewe waterverliese by veral die twee lekplekke is ook ’n rede vir die nagtelike waterafsluiting wat Kimberley vir die afgelope weke ondervind.

Die een waterlek is in die 900 mm-hooftoevoerlyn, by ’n terugvloeiklep, in die gebied van Sunset Manor ontdek, met nog ’n groot waterlek by die kruiskoppeling van die 900 mm- en 600 mm-toevoerlyn by Midlands in die Roodepan-gebied.

Die gebied rondom een van die waterlekplekke is grasgroen.

Luidens inligting wat vroeër die week gedeel is, is dié waterlekke op Maandag met behulp van ’n hommeltuig van Ekapa-myn “ontdek”.

Volgens Sonyoni behoort Galeshewe, Platfontein en Roodepan reeds Vrydag vroegaand water in die pype te hê, terwyl die sentrale sakekern en die omliggende woonbuurte eers Saterdag vroegaand water sal kry.

  • In gevalle waar inwoners teen Sondag steeds nie water het nie, kan hulle vir Saul Maseng van die munisipaliteit by 073-381-5218 bel.

Werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit doen herstelwerk.

You need to be Logged In to leave a comment.