Vir iemand wat as ’n jong man deur die stoomlokomotief-gogga gebyt is, sal dié koors nooit genees nie.
Só sê Ian Mandy, ’n mikrogolftransmissietegnikus, wat verlede week een van die Steamnet2000-vrywilligers was wat ’n klas 25NC-lokomotief #3437 snags in stoom gehou het op ritte tussen Bloemfontein en Kimberley.
Die geleentheid was die tweede keer dat ’n Duitse-toeroperateur ’n toer vir internasionale fotograwe gereël het wat stoomlokomotiewe met outentieke vragwaens of skilderagtige plekke in Suid-Afrika afneem.
Ian se seun, ook Ian, het self dié koors opgedoen. Albei het eksamens afgelê en is gesertifiseer om stoomlokomotiewe aan te steek, in stoom te hou en die lokomotief te stook.
“As jong man, toe ek nog vir Telkom gewerk het, het ek vele ure lank langs die spoorlyne gestaan en my aan die klomp stoomtreine vergaap. Daar was wonderlike hotelle by stasies op die spoorlyn by Belmont, Kranskuil en Witput waar ek ook ’n koeldrank kon koop en wag op die volgende trein.
“Stelselmatig het die stoomtreine in die 1990’s verdwyn. Ongelukkig het ek nooit daardie tyd foto’s geneem nie,” vertel Ian sr.
Sewe jaar gelede het hy werk by die Beaconsfield-depot gedoen en ’n stoomlokomotief in ’n stoorruimte gesien. Hy het navraag gedoen en op die versameling stoomlokomotiewe elders op die werf afgekom.
“Ek kon dit nie glo nie. Ek het Oscar Sabatini van Steamnet2000 se nommer gekry, wat my weer aan Peter Odell, ’n direkteur voorgestel het. Steamnet2000 was toe besig om die #3437- en #3482-lokomotiewe te restoureer.
“Ek het naweke ingeval en klein werkies help doen. Toe Peter-hulle besef hoe sterk ek is en dat ek vasgeroeste boute en goed kan losdraai of met die remme help, is ek betrek.
“Ian het as jong seun saamgekom en oral gehelp. Maar die gogga het hom verlede jaar goed beetgepak en ons twee is altyd êrens waar daar aan lokomotiewe gewerk word,” vertel hy.
“Dit was wonderlik om betrokke te wees toe #3437 ’n maand gelede na Bloemfontein vir toetsritte geneem is. In en om Bloemfontein was ons ook betrokke by toetsritte op ’n 15F-lokomotief.
“Die burokratiese rompslomp van Transnet is nogal ’n groot uitdaging, en mens kan ure en ure langs die spoorlyn wag voordat jy toestemming kry om te vertrek.”
Hy sê al kan dit tot tien ure se werk neem om net tien minute in ’n stoomlokomotief te ry, is dit steeds die moeite werd.
Ian is so geesdriftig dat hy intussen elke legendariese stoomtreindrywer wat veral in die Noord-Kaap gery het, se name leer ken het en dit in ’n asemteug kan aframmel.
“My hoop is dat ons binnekort weer betrokke kan wees wanneer #3437 na Kimberley van Bloemfontein teruggebring word.”
Vir meer inligting oor Steamnet2000, ’n nie-winsgewende organisasie, en sy werksaamhede, skryf aan s2000@vodamail.co.za.


