Pret en vermaak wag op diegene wat Saterdag (16/04) die mark by die DBV in Kimberley bywoon.
Benewens ’n Paaseier-soektog vir kinders sal Nakkie die Nar sy streke uithaal. Rescue, die DBV se gelukbringer, sal ook te sien wees.
’n Koek met ’n Paasfees-tema, asook ’n unieke staanlampie, word uitgeloot.
Die DBV se teetuin sal oop wees, en besoekers kan onder meer kunswerke, juwele, kos en boeke by stalletjies uitsnuffel.
Dié mark, aangebied deur Kimberley Markets, vind van 08:30 tot 14:00 plaas. Die geleentheid is ten bate van die DBV, ’n nie-winsgewende organisasie.
Die Paaseier-soektog vind van 09:00 tot 12:00 plaas, met talle pryse en geskenke wat op die spel is. Deelname kos R25 vir kinders ses jaar en jonger, R40 vir kinders sewe tot 14 jaar en R50 vir kinders 15 jaar en ouer. Besprekings is noodsaaklik.
- Belangstellendes kan Freddie Greeff by 082-309-9056 of Marais Tesner by 082-309-7885 bel om meer inligting te bekom of besprekings te maak.


