Thapelo Matlala, die stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit (links) en Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder.

Foto: Charné Kemp

Die Sol Plaatje-munisipaliteit glo die nagtelike watertoevoerafsluitings in Kimberley behoort binne maande net ’n vae herinnering te wees.

Dit kom nadat die eerste kontrakteur vandeesweek ingevolge die waterinfrastruktuuropknappingsprojek van die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) van R2,5 miljard, op die terrein gevestig is.

Ingevolge die vereistes soos deur die Tesourie gestel, moet betroubare watervoorsiening en die stad se watergehalte verbeter en lekplekke in die eerste fase herstel word. In die huidige geldjaar word R104 miljoen bestee, en R492 miljoen in die volgende jaar.

Thapelo Matlala, stadsbestuurder, het Dinsdag 13 Februarie gesê inwoners behoort binne maande die verskil te voel.

Thapelo Matlala, die stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit (links) en Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder.

“Ons het reeds beduidende vordering gemaak om die probleme te takel. Ons gaan ook ’n kontrakteur aanstel wat ‘nat’ herstelwerk kan doen sonder dat die watertoevoer afgesluit moet word.”

Drinkwatergehalte verbeter
Die munisipaliteit wat besorg is oor sy swak Bloudruppelverslag, gaan ook binne ’n maand sy plan by die raadsvergadering voorlê om die drinkwatergehalte van die stad te verbeter. Heelwat van die werk sal ook in die winter gedoen word wanneer inwoners minder water gebruik.

“Ons gaan meer as 50 projekte in die volgende vyf tot sewe jaar hê om die waterinfrastruktuur op te knap. Om beleggers na die stad te lok en ekonomiese ontwikkeling te stu, moet ons betroubare watertoevoer en elektrisiteitsvoorsiening hê.

“Ons wedywer met Bloemfontein, wat veel meer probleme met hul infrastruktuur as ons het. Met ons ekonomiese strategie hoop ons om stof in Bloemfontein se oë te skop.”

Intussen het ingenieurs van die Ekapa-diamantmaatskappy vandeesweek weer by die Riverton-watersuiweringsaanleg se besinktenks vergader wat hulle teen ’n koste van R10 miljoen opknap. Een van die besinktenks wat ses jaar gelede laas gebruik is, gaan ook opgeknap word.

Matlala hoop om binne ses weke al die besinktenks in diens te stel. Hy het weer verskoning aan inwoners vir die ongerief van gereelde wateronderbrekings gevra.

“Ons is dankbaar vir ondersteuning om ons watersekuriteit te herstel en versoek dat mense geduldig bly.”
Thapelo Matlala, stadsbestuurder

Hy het laat blyk dat die departement van water en sanitasie etlike direktiewe aan die munisipaliteit uitgereik het, en hulle hard probeer om daaraan gehoor te gee.

Die eerste kontrakteur gaan die 27 lekplekke aan die grootmaatwaterpypleidings teen ’n koste van R18 miljoen binne 15 maande herstel. Hy sal werk op die 600 mm- en 900 mm-deursnit grootmaatwatertoevoerpypleidings tussen Riverton en die stad doen. Dit behels ook herstelwerk by die Riverton-watersuiweringsaanleg, vervanging van kleppe en inspeksies in die pypleiding tydens waterafsluitings. Nuwe kleppe op die twee pypleidings sal dit van mekaar isoleer.

Nog ’n kontrakteur sal in Maart begin om moniteertoerusting vir waterinfrastruktuur en meters in diens te stel. Hiermee sal watervloei, netwerk-waterdruk, opgaardamvlakke, watergehalte, pH-balans, troebelheid en elektrisiteitsverbruik gemeet kan word. Dié kontrakteur sal ook die toerusting onderhou en sekuriteit verskaf. Die kontrak is R28 miljoen werd.

Nog ’n kontrakteur is vandeesweek teen R41 miljoen aangestel om die nuwe watersuiweringsaanleg by Riverton op te knap. Hy sal die watergehalte moet verbeter deur onder meer doseringstelsels vir die stelsel te ontwerp, te toets en in werking te stel.

Nog twee kontrakte om die pompstasies en elektriese stelsel by Riverton op te knap, en om die stad se watergebruik te meet en die waterdruk te bestuur, word adverteer.

Die tender van R50 miljoen om die ou aanleg op te knap, moet egter weer adverteer word weens onvoldoende bieërs in die eerste ronde.

You need to be Logged In to leave a comment.