Niemand is nog in hegtenis geneem nie nadat ’n inwoner van Kimberley, Jayson Afrique (28), verlede week in sy voertuig voor die hek van die meenthuiskompleks waar hy gebly het, doodgeskiet is.

Volgens ’n polisieverklaring het die voorval op Woensdag 31 Julie omstreeks 21:00 gebeur toe Afrique en sy 27-jarige vrou, Micayla, in hul Toyota Hilux-bakkie voor die hek van die kompleks in Newpark gestop het.

Iemand het die voertuig genader en verskeie skote afgevuur. Afrique het sy vrou glo in die voertuigkajuit afgedruk om haar met sy lyf teen die koeëls te beskerm. Nege skote is glo afgevuur. Sy is nie in die voorval gewond nie, maar is vir skok in die hospitaal opgeneem.

Niks is blykbaar in die voorval gesteel nie.

Afrique het in 2013 aan die Hoër Tegniese Skool Kimberley (HTS) matrikuleer, en was ’n motor- en motorfietsgeesdriftige.

Hy het ’n onderneming in Kimberley bedryf waarin swembaddens skoongemaak word.

Enigeen met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, ao. Thabang Kamolane, by 082-302-0407 bel, of 053-838-4344 tydens kantoorure.

Afrique se begrafnisdiens het op Dinsdag 6 Augustus in die City of Hope Church in Kimberley plaasgevind, met lede van die motorfietsklub CC Riders Kimberley wat deel van die stoet gevorm het.

Anena Burger en Helena Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.