Indien die Sol Plaatje-munisipaliteit nie binne ’n vasgestelde tyd op eise reageer wat tydens ’n optog teen die onvolhoubare waterverskaffing gestel is nie, sal ’n saak in die parlement gestel word om dié munisipaliteit in Kimberley onder administrasie te plaas.
Kriminele klagte sal in dié geval ook teen die munisipaliteit gelê word vir die oortreding van die waterwet.
Só het Harold McGluwa, LPW en die DA se Noord-Kaapse leier, op Donderdag 15 Februarie gesê nadat ’n memorandum met eise aan die stadsbestuurder, Thapelo Matlala, oorhandig is. Dié party het die optog teen die voortslepende waterkrisis namens die inwoners gelei, en het amptelike terugvoer binne 14 werksdae geëis.
“Kimberliete ly al jare weens die munisipaliteit se waterinfrastruktuur-mislukkings, met nagtelike wateronderbrekings, beplande en onbeplande waterafsluitings en die onlangse wateronderbrekings tydens die dag.”
Die party het ook ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa; die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu; en die minister van Cogta, Thembi Nkadimeng gerig, waarin ’n verdere beroep op ingryping gedoen is.
Hierin word uitgewy oor die invloed van dié afsluitings op skole, hospitale, aftreeoorde, besighede wat gastehuise en restaurante insluit, die toerismebedryf, asook nasionale en internasionale sport- en kultuurgeleenthede wat hierdeur bedreig word. Dit word genoem dat inwoners moeg is om hul lewe rondom stukkende waterpype en lae reservoirvlakke te beplan.
Dit is boonop kommerwekkend dat ongeag vele vorige pogings daar steeds nie ingegryp is om die waterkrisis te verminder nie.
Die DA het ook drie stelle persoonlike beskermingstoerusting (PPE) aangeskaf om geoorloofde oorsigbesoeke aan die Riverton-watersuiweringsaanleg te bring. Partylede is tot onlangs toegang tot Riverton verbied omdat hulle nie die uitrusting gehad het nie.
“Kimberliete is keelvol. Ons sal nie toelaat dat waterafsluitings genormaliseer word nie,” sê McGluwa.


