Kimberley-gemeenskap staan saam om polisieperd uit gat te red

Ieder en elk het Dinsdagoggend 16 Julie ingespring om Moonlight, ‘n hingsperd van die polisie se berede eenheid wat tydens ’n patrollie in ’n diep watergevulde gat in ’n veld in Rhodesdene in Kimberley geval het, te red.


Ieder en elk het Dinsdagoggend 16 Julie ingespring om Moonlight, ‘n hingsperd van die polisie se berede eenheid wat tydens ’n patrollie in ’n diep watergevulde gat in ’n veld in Rhodesdene in Kimberley geval het, te red.

Die perd het byna twee ure met sy hele agterlyf vasgesit, terwyl die voorpote vry op die grond was. Emosionele inwoners en diereliefhebbers het gespanne en by tye huilend langs die toneel waar die redders gespook het, gestaan en gebid dat die perd dit lewend sal maak.

Lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid, die Sol Plaatje-munisipale brandweer, Dierebeskermingvereniging, ’n private veearts en ’n sakeman is ingeroep om met die reddingspoging te help.

perd

‘n Kombers is oor Moonlight gegooi nadat hy gered is.

Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê lede van die Kimberley berede-eenheid was besig met sigbare patrollies in die Carters Glen-omgewing.

“Op die hoek van Rhodes- en Pickeringlaan het Moonlight, met ao. Brandon Mally as ruiter, in ’n gat getrap wat na bewering nie sigbaar was nie weens sand en gras wat dit bedek het. Ao. Mally se perd het met sy agterbene in die gat geval en die ruiter het weggespring. Ons lede het saam met die brandweer en ’n plaaslike veearts gewerk. Nie die perd of ruiter is beseer nie.”

Dr. Jozanne Nel, veearts, en haar assistent Joané Olivier van Vets 4 All Dierekliniek het na die perd omgesien. Pieta Serfontein, plaaslike sakeman, het die laaigraaf voorsien om die perd uit te lig.

Terwyl betrokkenes by die reddingspoging planne maak om vir Moonlight uit die gat te kry, word Moonlight deurentyd kalmeer.

Nel, wat gereeld die polisie met hul perde se behandeling help, het Moonlight sedeer om hom te kalmeer. Ná die suksesvolle reddingspoging is ’n drup met glukose op die perd geplaas en is antibiotikum, kortisoon en anti-inflammatoriese middels toegedien.

Uitdagende reddingspoging

Ryno Griesel, logistieke beampte van die munisipale brandweer, en ook die voorsitter van die Voorslag Perdeklub, ken perde en hul temperament. Hy sê die reddingspoging was uitdagend, maar gelukkig werk die polisie se soek-en-reddingseenheid en die brandweer al jare soos ’n geoefende span saam.

“Die gat is meer as twee meter diep, en regaf soos ’n skag. Gelukkig is Moonlight ’n friesperd wat groter as ander perde is, en het hy die gat vol gesit. Sy saal het hom teen die wal vasgedruk, maar ons was bekommerd dat as die buikgordel breek, hy in die gat sou afsak. Ons het ’n meetstok van twee meter in die gat af gedruk, en kon nie die bodem voel nie.”
Ryno Griesel

“Toe besef ons die perd se agterbene hang in die gat, hy kon nie vastrap nie. As hy sou afgly, of die gat se wal breek, kon hy wegsak en verdrink. Die span het hom entjie vir entjie maneuvreer sodat ons met ons hande die bande om sy lyf en agterbene in ’n harnas kon bind. Ons moes op gevoel werk, want die water is donker.

“Almal moes versigtig werk met die bande wat aan die laaigraaf gekoppel was om inwendige beserings te verhoed of dat hy ’n been breek. Soos ons gewerk het, het hy uit die harnas gegly, en dan moet ons weer van voor af begin om ook sy bene reg te posisioneer.”

Dit was ’n emosionele situasie, vertel Griesel.

Die reddingsbande om Moonlight word verstel.

“Ons moes kalm bly en nie paniekerig word nie. Al die werkers is aangesê om stadig te beweeg. Ons wou nie ’n raserige waterpomp aanskakel om die water uit te pomp nie, want die bykomende geraas sou die perd ontstig.

“Moonlight het mooi saamgewerk, ons vertrou, en het nie geskop en gespartel nie. Jy kon dit in sy oë sien. Sy ruiter het hom ook heeltyd vertroos en vasgedruk. Teen die einde, toe hy van skok begin bewe, het ons geweet dit is nou of nooit. Teen dié tyd was hy goed met brandweerwaterslange en gordels vasgemaak. Die laaigraaf-operateur moes hom vorentoe en teen ’n hoek uitlig, want ’n perd mag nie regop in die lug hang nie.”

Die redders en toeskouers het van blydskap geskree toe Moonlight uiteindelik bevry is, en regop gestaan en het toe begin loop. Die verligting op die redders se gesigte was duidelik.

Een van die helpers praat met Moonlight om hom te kalmeer.

Die bande om Moonlight word weereens verstel omdat dit weens die water in die gat, en omdat Moonlight nat is, voortdurend gly.

Oorsprong van diep gat ondersoek

Griesel en Quinton Jampies, veiligheidsbeampte, sê die munisipaliteit ondersoek die oorsprong van die gat waarvan niemand geweet het nie.

Die Sol Plaatje-munisipale ingenieurs en brandweer het glo later die gat gemeet. Dit is 2,2 m diep en het ’n deursnit van een meter.

Plaaslike inwoners, wat weens lekkende pyplyne gereeld onder watertoevoeronderbrekings ly, meen dit is ’n sinkgat.

Op die oorkantste sypaadjie is ’n oop mangat sonder enige deksels wat nie afgesper is nie. Inwoners is woedend vir die munisipaliteit oor die oop mangate wat glo al telkemale aangemeld is.

Een vrou sê dit is ’n ernstige risiko.

Die oop mangat aan die oorkant van die veld waar Moonlight in ’n gat van meer as twee meter diep geval het.

“Die gat is reg langs ’n voetpad wat mense gereeld gebruik. Dit is ’n uiterste gevaarsone, en die munisipaliteit moet dit dadelik regstel.”

Sodra die Sol Plaatje-munisipaliteit se kommentaar ontvang word, sal dit bygewerk word.

Die gat van 2,2 m diep waarin Moonlight geval het. Dié gat is op ’n oop stuk veld op die hoek van Rhodes- en Pickeringlaan in Rhodesdene, Kimberley.

Die span mense en helpers wat saamgewerk het om Moonlight uit die gat te haal.

You need to be Logged In to leave a comment.