Die Kimberley 4 Kimberley-span het op 1 Mei slaggate in Milnerstraat, en ook ander slaggate in die stad herstel.

Foto: Verskaf

Dit was toe ’n ambulans, dringend onderweg na ’n hospitaal in McDougalweg in Kimberley, ’n buiteband in ‘n slaggat bars, dat Kimberley 4 Kimberley ontstaan het.

DF Marais, uitvoerende hoof van Crown Asphalt en siviele kontrakteur, het sy werkers versoek om dadelik dié slaggat te herstel.

Kimberley 4 Kimberley is ’n nie-winsgewende organisasie wat die stad se sprankel probeer herstel met samewerking tussen inwoners en die private- en openbare sektor.

“Ek het daardie dag net begin werk, want ons gaan nie krities en negatief op die kantlyn staan nie,” sê hy. “Die organisasie werk saam met inwoners, besighede en die Sol Plaatje-munisipaliteit wat die materiaal skenk en toestemming gee dat paaie herstel word. Amptenare, kundige mense en ingenieurs word betrek. Intussen maak die munisipaliteit se eie spanne ook slaggate reg.

“Kimberley 4 Kimberley het sedert Januarie 2023 reeds R16 miljoen se werk op 50 000 vierkante meter padoppervlak gedoen. Inwoners skenk geld, maar die grootste bydraes was R10 miljoen van die Ekapa-myngroep en R1 miljoen van Absa. Daar is nog geldelike gapings. Die organisasie werk vier of vyf dae ’n maand, maar as daar genoeg geld is kan daar elke dag gewerk word.”
DF Marais

Die skenkings word vir arbeid en toerusting gebruik.

“Die organisasie maak ook strate en sypaadjies skoon. Inwoners wat nie geld kan skenk nie, kan help om strate en woonbuurte skoon te maak. Hoe skoner buurte is, hoe trotser voel inwoners oor hul bydrae.”

Die paaie wat reggemaak word, is naby skole, kerke en hospitale en die hoofingange waar die grootste volumes verkeer is.

“Die organisasie doen noodherstelwerk waar gate toegemaak word, formele konstruksie wanneer gate in die oppervlak uitgesny en vervang of ’n hele nuwe bolaag op die padoppervlak geplaas word.

“Die organisasie wil ’n verskil maak. Ons moet verseker die Absa Wildeklawer sporttoernooi word altyd in Kimberley aangebied. Die stad moet weer sprankel en beleggers en sakelui welkom laat voel.”

Die Kimberley 4 Kimberley-span het op 1 Mei slaggate in Milnerstraat, en ook ander slaggate in die stad herstel.

Hy sê Kimberley 4 Kimberley is ’n woordspeling in Engels en Afrikaans: “Kimberley for Kimberley” en “Kimberley vier Kimberley”.

“Dit is ’n storie van hoop en die beste voorbeeld van ’n privaat- en openbare vennootskap wat werk. Dit kan bloudruk word vir dorpe soos Prieska 4 Prieska. Met die werk wat in Kimberley gedoen is, sou ons seker al Douglas se teerpaaie kon herstel. Groot besighede en inwoners moet saam met die munisipaliteit werk.”

‘Slaggate het geldelike, emosionele gevolge’

Een oogmerk is om inwoners in Kimberley te behou.

“Kimberley het wonderlike mense wat op soveel terreine ’n verskil maak. Hulle moet lekker in ons stad woon, soos in enige dorp waar alles reg werk. Mense wil ’n verskil maak, eerder om net te sit en op die see uit te staar.”

Die pad na die hospitaal is daarom eerste reggemaak.

“Mediclinic kan nie ’n hospitaal teen ’n enorme bedrag bou, maar dokters en spesialiste wat ons lewe moet red, wil nie hier bly nie. Slaggate het geldelike en emosionele gevolge.”

Een van die suksesverhale is van inwoners in Petrusstraat wat so moedeloos was oor die swak pad dat hulle wou verhuis. Klippe het in die verbygang teen ander motors gespat of motoriste het op sypaadjies gery om slaggate te vermy. Snags het motoriste in slaggate ingery. Nadat die pad herstel is, het die betrokke inwoners hul huis van die verkoopmark onttrek. Die eerste Kimberley 4 Kimberley skenker was ’n man van Noordwes wat versoek het dat die slaggate in die pad wat sy bejaarde ouers daagliks ry, reggemaak word.

Marais raai inwoners aan om paaie wat baie slaggate het, deeglik skoon te maak. “Dit moet skoon wees van takke, blare, sand en klippe, want sand is soos skuurpapier wat die teeroppervlak wegvreet. Hoewel mense sand in slaggate gooi, maak dit die gat net groter. Die sand op kruisings waar motors draai, verweer die teer op die oppervlak ook erg. As jou straat skoon is van sand en klippe is, keer jy verdere agteruitgang. Jy kan dan vir Kimberley 4 Kimberley of die munisipaliteit vir hulp bel.”

Vir meer inligting of skenkings, besoek kimberley4kimberley.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.