Die meeste van die inwoners van die Sally Aucamp-tehuis in Kimberley bly vir die duur van die feestydperk in die tehuis aan.
Vir dié inwoners, wat volwassenes met liggaamlike gestremdhede is, word ’n vleisbraaigeselligheid met slaai en braaibroodjies, en hopelik ’n nagereg, op Kersdag beplan.
Evie Brevis, matrone van dié tehuis, sê dat talle van die 13 inwoners – waarvan tien mans en drie vroue is – nie ’n ander heenkome vir die feestydperk het nie. Enkele van hulle gaan wel tyd by familie deurbring.
Vir die duur van die feestydperk hoop Brevis om genoeg “lekker eetdingetjies” aan die inwoners, wie se ouderdom van 18 tot 70 jaar wissel, te kan gee.
Die Sally Aucamp-tehuis, wat sedert 1981 bestaan, is die enigste tehuis in die Noord-Kaap vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede.
Dit is ’n niewinsgewende organisasie en ’n nieregeringsorganisasie wat van skenkings afhanklik is.
Die meeste van die inwoners maak van rolstoele gebruik om oor die weg te kom, en van hulle het beperkte tot geen handgebruik.
’n Vaste roetine word daagliks gevolg, met personeel wat 24 uur ’n dag, sewe dae ’n week, aan diens is.
Musiek luister, televisie kyk, Bybelstudie, legkaart bou en handwerk volgens elkeen se handgebruik hou die inwoners besig.
“Ek is baie trots op hierdie huis; ek is baie lief vir ‘my kinders’ ,” sê Brevis, wat die afgelope agt jaar hier betrokke is.
Sy het voorheen aan NoordkaapBulletin vertel dat dié huis “ ’n gelukkige huis is,” en “ons dans, ons lag, ons speel musiek,” het sy gesê.
“Besoekers is altyd welkom vir geselskap,” nooi Brevis.
Besoekure is van 10:00 tot 11:00 en van 15:00 tot 16:00.
Behalwe “lekker eetdingetjies” is skenkings van toiletware vir die inwoners ook baie welkom.
Bel Brevis by 072-146-9003.


