Op die provinsiale matriekprysuitdelingseremonie is van links Zolile Monakali (LUR vir onderwys), Nomandla Bloem (LUR vir vervoer en veiligheidskakeling), Zelda Zwiegers (waarnemende skoolhoof van die Hoërskool Hopetown) en Venus Blennies (LUR vir jeugdiges, vroue, mense met gestremdhede en kommunikasie).

Foto: Helena Barnard

Altesaam 31 ononderbroke jare al slaag elke gr. 12-leerling aan die Hoërskool Hopetown sy of haar matriekeindeksamen.

Dit is ook die skool wat op 20 Januarie op die departement van onderwys se prysuitdeling vir die 2022- nasionale seniorsertifikaateksamen as die topskool in die Noord-Kaap aangewys is.

Die skool het boonop die eerbewyse vir die beste skool in die provinsie in die vakke wiskunde en fisiese wetenskap ontvang.

Een onderwyser, Annalie Botha, bied dié vakke vir gr. 12-leerlinge aan.

Zelda Zwiegers, waarnemende skoolhoof, sê die skoolgemeenskap is tegelykertyd trots, nederig en dankbaar.

Drie leerlinge, Anri Jansen, James Henry Fourie en Jack Wiid, het elk ’n A-gemiddelde behaal. Onder die 20 matrikulante was daar 29 vakonderskeidings. Die A-omsetsyfer is dus 145%.

“Ek was oorstelp en dankbaar toe ons as die beste skool aangewys is. Dit is ’n groot eer. Die skool se sukses kan toegeskryf word aan die driehoek tussen onderwysers, leerlinge en ouers, en hul volgehoue toewyding en verantwoordelikheidsin.

“Dit is belangrik dat leerlinge vir hulself mikpunte stel en daarna streef om sedert die begin van ’n skooljaar hul bes te gee,” sê Zwiegers.

“Hoërskool Hopetown is ’n gekombineerde skool met leerlinge van gr. 1 tot gr. 12. Van jongs af word hulle aan goeie beginsels, waardes en verantwoordbaarheid blootgestel.

“In ’n klein plattelandse skool is dit belangrik dat elke betrokkene sy bes moet doen. Ons volg ’n holistiese benadering en skep ’n gunstige omgewing vir kinders om in te groei. Die leerlinge en onderwysers het baie goeie interpersoonlike verhoudings.”

Zwiegers sê die skoolbeheerliggaam (SBL) is visionêr en dinamies.

“Hulle ondersteun die skool geweldig en dra die belange van almal op die hart.

“Die SBL en personeel doen baie meer as die minimum wat verwag word. Die skool handhaaf goeie akademiese standaarde en gesonde dissipline. Die kernwaardes is dat ons Christelike waardes uitleef en respek vir mekaar het.”

Goeie balans tussen sport, akademie en ander buitemuurse aktiwiteite is belangrik om ewewig in leerlinge se lewe te gee.

“Dit is ook belangrik dat elke leerling eienaarskap vir sy of haar skool aanvaar. Die skool se tema vir 2023 is ‘HSH — My skool, Vat vas, Vat 5’. ”

Benewens haar verpligtinge as skoolhoof, bied Zwiegers besigheidstudie vir gr. 12-leerlinge en rekenaartoepassingstegnologie vir gr. 10 tot gr. 12 aan.

Die skool het vanjaar 25 gr. 12-leerlinge.

Die Hoërskool Douglas is die tweede beste skool in die provinsie en die Kimberley Girls’ High School het die derde plek ingeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article