TRACTOR - langsame reis met demensie.
Esmé Marks in Robertson agter die stuur van die Landini-trekker. FOTO: Facebook

Die meerderheid mense is bekommerd dat hulle dalk op ‘n later ouderdom demensie kan ontwikkel. Tog bestaan soveel onkunde oor demensie, en soms kleef ‘n stigma daaraan. Om meer bewustheid oor demensie te skep is September Wêreld Alzheimer-maand met die tema “Ask about dementia − Ask about Alzheimer’s.”

Demensie is ‘n sambreelterm vir ‘n versameling simptome wat breinverwante agteruitgang veroorsaak en ‘n invloed op geheue, denke, gedrag en emosie het.

Meer as 100 vorme van demensie bestaan, met Alzheimer se siekte as die bekendste vorm.

As deel van demensie-bewuswording word ‘n “Kimberley Goes Purple”-veldtog op Vrydag 19 September deur die Noord-Kaap-streek van die Vereniging vir Demensie en Alzheimer se siekte van Suid-Afrika (Adasa) aangebied.

Om vrae oor demensie te vra is die eerste stap om dié breinsiekte te begryp, om stigma te verminder, om uit te vind wat die versorging van iemand met demensie behels en om die invloed wat dit op versorgers en gesinslede het te begryp.

LEES OOK: Knowledge is power: Ask about dementia, ask about Alzheimer’s

“Kennis is mag, en elke gesprek maak ‘n verskil. Die reis van demensie behoort niemand alleen aan te pak nie,” sê die Vereniging vir Demensie en Alzheimer se siekte van Suid-Afrika (Adasa).

Trekker simbolies

Omdat hulle die invloed van demensie direk beleef het toe hul pa daarmee diagnoseer is, het drie susters vroeër die maand ‘n trekkerrit van Potchefstroom na Bredasdorp aangepak.

Die geborgde Landini-trekker wat vanaf Potchefstroom via Kimberley tot in Bredasdorp deel van die Tractor-projek was. Foto: Facebook

Sentraal in dié projek, Together Rallying Across Communities To Overcome Remembrance-loss (Tractor), was ‘n geborgde Landini-trekker. Die trekker simboliseer die langsame reis wat betrokkenes deurmaak, maar ook die kragtige teenwoordigheid van hulp, veerkragtigheid en hoop.

LEES OOK: Trekkertoer skep bewusmaking van langsame reis van demensie

Adasa
Die geborgde Landini-trekker, met sy konvooi, het op 1 September by die Acacia-aftreeoord in Kimberley aangedoen as deel van die projek Together Rallying Across Communities To Overcome Remembrance-loss (Tractor). By die susters Debbé Pieterse (links), Esmé Marks en René Daffue, is Emsie Malan (agter), streekbestuurder van die Vereniging vir Demensie en Alzheimer se siekte van Suid-Afrika (Adasa). Foto: Helena Barnard

Esmé Marks, een van die susters en bestuurder van die projek, het vroeër vertel dat Tractor daarop gemik is om bewustheid van die emosionele en maatskaplike invloed van demensie op Suid-Afrikaanse gesinne te verhoog. Marks is van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom, en die veldtog is deur NWU-ondersteuningspersoneel koördineer en as ‘n projek aan die fakulteit geesteswetenskap registreer.

  • Enigeen kan aan die #GoPurple-veldtog deelneem deur byvoorbeeld ‘n ruimte soos ‘n tuin of werkplek met pers te versier. Dra pers klere of bykomstighede. Skep ‘n pers produk wat te koop aangebied word, en skenk ‘n deel van die inkomste aan Adasa. Stuur “Going Purple” foto’s wat op 19 September geneem is na emsie.malan@adasa.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.