Keimoes se waterwiel, dié dorp se bekendste baken, het op Dinsdag 21 November die pad terug na sy plek in die kanaal langs die hoofstraat gevind.
Die waterwiel is in die tweede week van Augustus deur die Kai !Garib-munisipaliteit afgehaal nadat die rollaers en ’n deel van die as ingegee het. Dit het veroorsaak dat die waterwiel in die kanaal ingesak het en nie meer kon draai nie. Van die vinne moes ook herstel word.
Die waterwiel sou na verwagting binne twee weke terug op sy plek wees, maar dit het nie gebeur nie.
Dit is mettertyd na ’n private ingenieursonderneming in Keimoes vir herstelwerk geneem. Nadat die munisipaliteit die rekening vir die herstelwerk vereffen het, was die vervoer en oprigting van die waterwiel ’n uitdaging aangesien dit ’n swaar ysterkonstruksie is.
Dié waterwiel, in 1978 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar, is ’n gewilde stoppunt vir toeriste om foto’s te neem.
’n Hele blommeseisoen se toeriste is deur Keimoes sonder ’n waterwiel, en inwoners het gehoop om die Kersgety met die waterwiel te kan ingaan.
Teen vroegmiddag op Dinsdag was die waterwiel op sy plek.
Ongeag van ’n paar verstellings wat moet plaasvind, en ’n vin wat nog gebuig is, was die vreugde groot oor die baken wat weer sy plek gevind het.


