Hugo van Sittert

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die lyk van ’n bejaarde boer van Keimoes is verlede week deur die polisie op ’n buurplaas gevind nadat sy familie hom sedert die vorige naweek nie telefonies kon bereik nie en hom as vermis aangemeld het.

Hugo van Sittert (71) is vermoedelik vermoor oor ’n loongeskil­ tussen hom en een van sy plaaswerkers, sê kapt. Nelis Prins, polisiewoordvoerder.

Hugo van Sittert

Van Sittert het alleen op sy plaas Bok se Puts op die Lutzputs-pad gewoon en geboer.

Prins sê die polisie in Kei­moes het Maandag 5 Februarie ’n verdagte persoon voorgekeer nadat hulle die persoon in Van Sittert se bakkie sien rondry het.

Hulle het die voertuig voorgekeer en die persoon ondervra. Die verdagte het die polisie gelei na ’n huis waar hulle op ’n vuurwapen beslag gelê het.

Die persoon by wie se huis die vuurwapen gevind is, is ook in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Die verdagte wat met die bakkie gevind is, is op aanklag van die besit van ’n moontlik gesteelde voertuig in hegtenis geneem.

Prins sê die verdagte, wat glo vir Van Sittert gewerk het, beweer hy het die Saterdagaand sy loon by Van Sittert geëis, maar dat dié aan hom gesê het hy het nie geld nie. Die verdagte beweer hy is die volgende dag saam met ’n makker na Van Sittert se huis waar hy weer sy loon wou eis.

Volgens die verdagte het Van Sittert na bewering met ’n .22-geweer op hulle geskiet. Een van die verdagtes is glo in sy hand gewond.

Die polisie se verdere ondersoeke toon dat Van Sittert moontlik met ’n stomp voorwerp geslaan is. Prins sê die verdagte het sedertdien etlike uitwysings gedoen oor waar Van Sittert se lyk veronderstel was om te wees, maar dié inligting was telkens misleidend.

Die polisie het glo Donderdag 8 Februarie ná nog ’n soektog na Van Sittert afgekom op sy lyk op die buurplaas Bok se Dam wat op die Lutzputs-pad geleë is.

Dit lyk asof Van Sittert moontlik nog geleef en probeer kruip het. Sy lyk is sowat 150 m van die hek af gevind.

Prins sê die polisie het sover twee verdagtes in hegtenis geneem, maar is op soek na die derde verdagte.

Enigeen met inligting word gevra om die polisie in Kei­moes dringend te kontak. Alle inligting sal as hoogs vertroulik beskou word. 

You need to be Logged In to leave a comment.