Die foto van Letitia Bucks wat deur die polisie gebruik is tydens haar verdwyning.

Foto: Verskaf

’n Vrou van Kimberley, wat verlede jaar tydens ’n kerkdiens verdwyn het, is Maandag 5 Februarie met haar familie herenig.

Letitia Bucks wat tydens haar verdwyning 29 jaar oud was, het op Sondag 26 April verdwyn nadat sy tydens ’n kerkdiens in Florianville, Kimberley, vir haar ma gesê het sy gaan badkamer toe.

Sy het nie teruggekeer nie.

’n Beskrywing van haar, asook inligting oor die klere wat sy aangehad het toe sy laas gesien is, is deur die polisie versprei, en is ook op die “Missing Adult Alert”-groep geplaas.

In ’n verklaring wat Maandag 5 Februarie deur die polisie in die Noord-Kaap uitgereik is, word die publiek ingelig dat Bucks gevind is en met haar familie verenig is.

Die polisie bedank die media en die publiek wat inligting oor Bucks se verdwyning versprei het, en diegene wat bygedra het dat sy met haar familie herenig is.

Sers. Timothy Sam sê die polisie sal die familie bystaan om die nodige bystand en ondersteuning te bekom. Hy sê die omstandighede rondom Bucks se verdwyning is nog nie bekend nie.

Sam sê die polisie in Vryburg het Maandag talle oproepe ontvang oor die vrou wat met ’n bondeltjie klere onder haar arm langs die pad tussen Mahikeng en Stella in die Noordwes gestap het.

Anena Burger berig dat Bucks ook deur Heino de Beer, ’n inwoner van Vryburg opgemerk is. De Beer het onder ’n speurder gekontak nadat Bucks glo nie wou antwoord toe hy of sy dogter haar gevra het of sy hulp nodig het nie.

De Beer het daarna foto’s van haar waar sy langs die pad stap op Facebook gedeel. Die plasing het vinnig versprei en mense het reageer met nuusberigte wat oor haar verdwyning geplaas is.

Die polisie was vinnig op die toneel, waarna hulle Bucks bygestaan het.

’n Foto van Letitia Bucks waar sy Maandag 5 Februarie langs die pad in die Noordwes stap.

You need to be Logged In to leave a comment.