’n Omgewingspesialis van Kimberley wat die yskoue en diep Kamfersdam buite die stad aangedurf het om ’n beseerde kleinflamink te red wat op ’n webkamera deur internetkykers in Amerika raakgesien is, is nou dié natuurliefhebbers se heldin.
Ester van der Westhuizen-Coetzer, omgewingspesialis van die Ekapa-mynmaatskappy, meen die flamink wat sy gered het, is waarskynlik beseer toe dit op die water probeer land en sy een been aan ’n uitheemse suidwesdoringboom gehaak het.
Africam het ’n paar maande gelede ’n webkamera in samewerking met Ekapa en BirdLife Suid-Afrika op die kant van Kamfersdam geplaas. Die oogmerk is om kykers oor die wêreld heen op hoogte te hou van die wildlewe rondom die dam, asook watervoëls soos groot- en kleinflaminke.
“Ek was op Woensdag 1 Junie met ’n vergadering besig toe ek boodskappe kry dat kykers in Amerika die beseerde voël op die kamera gesien het. Ek is gevra om die voël te gaan red. Ons het gesien die flamink was nogal ver in die dam en ek het nie geweet hoe diep die water is nie. Daar is nie baie flaminke nie omdat die water so diep is. Ek skat daar is seker sowat 200 grootflaminke en 100 kleinflaminke. Daar is glo meer flaminke op vlakker panne tussen die stad en Bloemfontein.
“Ek het my waterbroek aangetrek en sowat 150 m in die water ingeloop. Die broek hou die water uit, maar beslis nie die koue nie. Ek het die voël se been van die tak losgehaak, hom uitgedra en in ’n handdoek toegedraai om hom warm te hou. Hy was darem nog lewendig genoeg om na my te byt.
“Hy was binne ’n halfuur by dr. Donovan Smith, plaaslike veearts, vir behandeling. Ons sal hom vrylaat sodra hy gesond en die omstandighede reg is,” sê sy.
Die Africam-kamera kan ’n omtrek van 360 grade teen hoë resolusie afneem en baie ver inzoem. Die hele redding is opgeneem en op sosiale media uitgesaai. Indien die flamink herstel, sal die vrylating ook opgeneem word.
Smith sê dit is ’n volwasse voël, maar die geslag is onbekend.
“Dit lyk nie of die been gebreek is nie, maar die ligamente en spiere is beseer. Ek behandel die flamink met antibiotikum en pynmedikasie by die spreekkamer. Ek hoop hy of sy herstel goed.”


