Met diefstal uit voertuie en erwe wat toeneem, moet inwoners van Kathu al hoe meer bedag wees op misdaad in woonbuurte en die sakekern.
“Die misdaad wat die meeste voorkom, is diefstal uit voertuie,” sê André Schoeman, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GFP) en mede-eienaar van die veiligheidsmaatskappy Rhino Security.
Diefstal van onder meer fietse, tuingereedskap en ander toerusting uit erwe kom ook algemeen voor, asook diefstal van onder meer elektriese kabels en waterpype tydens beurtkrag.
Volgens Schoeman is iemand onlangs in hegtenis geneem terwyl hulle besig was om ’n kragopwekker te ontkoppel om uit ’n erf weg te dra.
“Niks wat uit jou erf gesteel kan word, moet van die straat af sigbaar wees nie. Bêre jou goed,” beveel hy aan.
Dieselfde geld vir besittings in voertuie, sê Schoeman.
Volgens Schoeman het die vergiftiging van honde in erwe effens afgeneem. Teen middel Januarie is die vergiftiging van honde by 19 huise oor ’n tydperk van twee weke aangemeld.
“Misdadigers vergiftig nie noodwendig die honde by ’n huis waar hulle wil inbreek nie. Hulle vergiftig die honde in die straat wat die ander wakker maak.”
Hy beveel aan dat honde sover moontlik in die agterplaas gehou word en dat die erf gereeld vir vreemde sakkies, stukkies vleis of bene deursoek word.
Huisinbrake kom ook voor, hoewel nie so algemeen soos die bogenoemde misdade nie. Schoeman sê egter misdadigers is altyd op die uitkyk en sal nie ’n geleentheid laat verbygaan nie.
“Maak gebruik van veiligheidstelsels. Die dae dat ruite en deure oopstaan, is verby.”
Schoeman sê dit is noodsaaklik om die GPF weer aan die gang te kry.
Die sigbaarheid en gesamentlike aksies van die GPF, Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander veiligheidstrukture is bekend daarvoor om misdaad te beveg.
“Raak as ’n vrywilliger by die GPF betrokke en weet ook so wat om jou aangaan,” sê hy.
- Belangstellendes kan Schoeman by 082-319-5906, Dean Espach by 071-625-1783 of Charlotta Payne by 083-635-5208 bel om by die GPF betrokke te raak.