Petrus van Breda, president van die Suid-Afrikaanse Nasionale Binnenshuise en Veldboogskietvereniging, oorhandig goue medaljes aan ’n tweeling van Kathu, Misha en Henru Goosen.

Foto: Lientjie Mentz

’n Tweeling van Kathu het al die pad van hul tuisdorp gery om aan binnenshuise boogskietkompetisies in Bloemfontein deel te neem en is daarvoor met goue medaljes beloon.

Hul ma, Petro Goosen, sê Henru en Misha (8) neem al die afgelope jaar ywerig aan dié sportsoort deel.

Sy en haar man, Jaco, en die kinders behoort aan die Gamagara-boogskietklub in Kathu waar hulle meestal aan driedimensionele veldskiet­kompetisies deelneem.

Petro sê die kinders geniet die binnenshuise kompetisies meer, maar dit word nie in Kathu aangebied nie.

Om die lang pad af te lê was vir die twee die moeite werd, want albei het goue medaljes in die welpie pikkie-afdeling van ’n kompetisie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Binnenshuise en Veldboog­skietvereniging (Sanifa), vir onderskeidelik meisies en seuns, verwerf.

Die kompetisie is op verskillende bane oor die land heen, maar op een platform, van 13 tot 15 Mei aangebied.

Die medaljes is Vrydag (27/05) op ’n geselligheid van die Vrystaatse Boogskiet­federasie by die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein oorhandig. Die president van Sanifa, Petrus van Breda, het die medaljes aan die tweeling oorhandig.

Petro sê die tweeling ontvang tuisonderrig, maar neem ook aan buitemuurse aktiwiteite deel. Misha dans en Henru neem swem en speel tennis. Die tweeling sê boogskiet is vir hulle groot pret en hulle is baie trots op hul goue medaljes.

You need to be Logged In to leave a comment.