Lede van die Goue Gerwe-groep in Kathu het inwoners van die Berg-en-Rus-aftreeoord in Olifantshoek onlangs besoek.
Voor die tyd is daar vir ’n vale gehekel en gebrei sodat elke inwoner ’n paar warm slaapsokkies kon ontvang. Boonop is elkeen op ’n pakkie vol lekkernye en toiletware trakteer.
Die tafels het onder die eetgoed gekreun, en veral die sjokoladekoek was ’n treffer.
Inwoner Willem Burger het sy leerwerk gewys, en bedlêende bejaardes is in hul kamer besoek. Psalms en gesange is ook saam gesing.
- Bejaardes in Kathu wat hulle by die Goue Gerwe-groep wil aansluit, kan Susan van der Berg by 084-701-0894 bel. Die lede kuier elke Dinsdag om 10:00 by die NG kerk Kathu.


