Dit is maklik om die spreekwoordelike kat in die sak te koop met aanlyn-inkope. Foto: Unsplash/Alexandr Popadin


Aanlyn inkopies is gerieflik, vinnig en maak dit maklik om pryse te vergelyk.

Dit is egter nie altyd gewaarborg om ’n aangename ervaring te wees nie.

Voorkom die kat in die sak

Hou die volgende wenke in gedagte om haakplekke met aanlyn aankope te vermy:

  • Koop slegs by handelaars met bekende name.

As jy nie seker is nie, vra mense wat jy ken wat gereeld aanlyn inkopies doen, of doen ’n aanlyn soektog vir resensies oor die betrokke webblad.

Jy sal gou sien as daar baie mense is wat kla oor ’n verkoper. As daar geen resensies is nie, is dit ook ’n rooi vlag, want dan het min mense dalk nog by dié winkel gekoop.

  • Moenie jou op die prys blind staar nie.

’n Artikel kan dalk aanlyn goedkoper wees, of dit is minder moeite om iets aanlyn te bestel eerder as om te ry om dit te gaan koop, maar op die duur kan dit jou groot beslommernis spaar as jy eerder na ’n winkel gaan en die produk met jou eie oë sien. Grafiese voorstellings en foto’s weerspieël nie altyd gehalte nie.

  • As jy kan, koop direk by die kleinhandelaar op hul webblad. So is dit duidelik wie aanspreeklik is.

’n Betroubare handelaar met ’n reputasie en geskiedenis van goeie dienslewering is meer geneig om by ’n waarborg te hou en dit vir jou maklik te maak om iets terug te stuur of te ruil.

  • Dit is belangrik om jou persoonlike inligting te beskerm, want booswigte is altyd daarop uit om dit te onderskep.

Skep ’n unieke gebruikersnaam en sterk wagwoord (met kleinletters, hoofletters, syfers en leestekens) vir elke aanlyn winkel of kleinhandelaar; transaksies waar ’n eenmalige wagwoord (one-time password of OTP) vereis word, is veiliger; moenie wi-fi in openbare plekke gebruik nie, dit is in sulke gevalle makliker vir booswigte om jou persoonlike inligting te steel; en koop eerder met ’n kredietkaart as ’n debietkaart – dit is veiliger, want ’n kredietkaart bied meer verbruikersbeskerming.

  • As jy vir jouself om een of ander rede ’n kat in die sak gekoop het en jy nie tevrede is met die manier waarop die aanlyn winkel of kleinhandelaar die saak wil beredder nie, kan jy as verbruiker jou stem laat hoor deur die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantoor vir verbruikersake oor aanlyn kopies by 012-428-7000 te skakel.

Jy kan ook jou klagte aan complaints@thencc.org.za stuur.

Vir meer inligting, besoek thencc.gov.za aanlyn.

Alternatiewelik kan jy jou na die ombud vir verbruiksgoedere en -dienste wend. Skakel 086-000-0272, of stuur ’n e-pos aan info@cgso.org.za.

Let daarop dat die Nasionale Verbruikerskommissie en die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste hul dienste gratis aan alle verbruikers beskikbaar stel.


Ilse Zietsman, Rapport

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article