Die 15 karatekas van die klub Mushin Kai Karate Noord-Kaap, wat onlangs aan ’n kampioenskap in Gaborone in Botswana deelgeneem het, het 20 medaljes huis toe gebring.
Dié studente het die land op 4 Mei, onder leiding van sensei Geraldine Swanepoel van Mushin Kai, by die Gabs Ope kampioenskap verteenwoordig.
Hier het hulle drie goue, sewe silwer- en tien bronsmedaljes ingepalm, asook drie trofeë. Swanepoel vertel dat dit ’n groot kampioenskap was met meer as 700 inskrywings vanuit Suid-Afrika, Botswana, Zambië en Zimbabwe.
Sy sê dié Noord-Kapenaars is besig met voorbereiding vir hul half-jaarlikse gradering wat oor ongeveer ’n maand plaasvind. Daarna volg voorbereiding vir ’n nasionale byeenkoms in Kraaifontein in die Wes-Kaap later vanjaar.
“Al die studente werk hard vir die opkomende gradering en kampioenskap,” sê sy.
Sy en hoof-instrukteur sensei Raynier Fourie sien uit na die blink toekoms wat vir hul studente voorlê. Volgende jaar beplan hulle om ’n groter groep Botswana toe te vat.


