
Kommer heers dat die Noord-Kaapse premier se kantoor moontlik nie ’n deursigtige, billike, kostedoeltreffende en mededingende tenderproses gevolg het wat betref ’n huurkontrak vir ’n nuwe kantoorkompleks nie.
Dit kom ná opmerkings oor die algehele begroting van die premier se kantoor vir die nuwe geldjaar wat met 55% gestyg het.
Volgens gerugte kos die DSC-kantoorgebou in Monumenthoogte, Kimberley, wat die premier gaan huur, glo heelwat meer per maand as die Transnet-gebou in De Beers, wat tot nou gehuur is.
Só sê Pakes Dikgetsi, Cope-uitvoerende raadslid.
Hy sê dit herinner aan die Trifecta-skandaal waarin John Block, voormalige Noord-Kaapse ANC-leier en LUR, en Christo Scholtz, Trifecta-direkteur, 15 jaar gevangenisstraf weens bedrog opgelê is. Block het sy magte misbruik sodat Scholtz se Trifecta-maatskappy duur staatshuurkontrakte vir kantoorruimte bekom het.
“Iets is nie pluis nie, en ek gaan dit by die Openbare Beskermer aanmeld,” sê Dikgetsi.
Hy probeer al meer as ’n maand om die finale geskatte provinsiale inkomste-en-uitgawes-verslag van amptenare te bekom. Volgens inligting vervat in die proefkopie van die geskatte provinsiale inkomste-en-uitgawes-verslag wat hy het, styg die koste vir die 2022-’23 geldjaar vir dienste en produkte (wat kantoorhuur insluit) met 885%.
Die vorige begroting hiervoor was R15 miljoen, terwyl dit R150 miljoen vir die 2023-’24-geldjaar beloop.
“As ’n mens na die kantoorhuurbedrae kyk, wissel die bedrae op onverklaarbare wyse. In die 2019-’20-geldjaar beloop die kantoorhuur R10 miljoen, en daal na R7 miljoen in die 2020-’21-boekjaar.
“In die 2021-’22-geldjaar styg dit na R20 miljoen en vir die 2022-’23-geldjaar is R19 miljoen bewillig.
“Die geweldige styging vir dienste en produkte beteken geld moet van elders geskuif word, want die premier se kantoor kry nie meer geld van die nasionale regering nie.
“Dit gaan dienslewering ernstig benadeel as meer geld vir luukse kantoorhuur gevind moet word.
“Die premier het in 2019 in sy inhuldigingstoespraak gesê hy gaan koste besnoei, die premierswoning verkoop (wat nie gedoen is nie), goedkoper motors gebruik (maar hy huur duur staatsmotors) en geen blomme, gebottelde water en rooi tapyte gebruik nie.
“Ons gaan ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om verdere inligting te bekom.”
Volgens hom is die nuwe kantoor “ ’n elitistiese dobbelary” met die beperkte staatshulpbronne.
Pleks van besteding op dienslewering word dit gebruik om die “weelderige leefstyl van die vet katte” te bevredig.
“Gaan die hele gebied, insluitend aangrensende persele soos die North Cape Mall, die koffiewinkel, karwassery en mediese klinieke gesluit moet word? Hierdie stap is nie behoorlik deurdink nie. Ek hoop regtig dat geen tenderknoeiery plaasgevind het nie.
“Ons premier is ’n man wat vele beloftes maak. Ons wag vir sy reaksie, maar is al gewoond aan sy gebruiklike stilte oor kontroversiële sake.”
In Maart het Danie Coetzee, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer (LPW), in ’n verklaring gesê sy wenkbroue lig oor die “geweldige styging van 55% vir die begroting van die premier se kantoor”. Sy kommentaar het gekom nadat Abraham Vosloo, LUR vir finansies, die provinsiale begroting ter tafel gelê het.
“Die VF Plus sal die styging in die premier se begroting fynkam.”
Monwabisi Nkompela, woordvoerder vir die premier se kantoor, het teen die koerant se spertyd nog nie op versoeke om kommentaar reageer nie.


