Die oorvol Kamfersdam in Kimberley omgeef die spoorlyn tussen Johannesburg en Kaapstad.

Foto: Charné Kemp

Terwyl Kagisho Sonyoni, uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, onlangs in ’n onderhoud met SABC gesê het daar is “geen grootskaalse rioolprobleme nie”, toon watermonstertoetse van AfriForum en ’n indiepte ondersoek van die Menseregtekommissie (MRK) die teendeel.

Sonyoni het Sakina Kamwendo, aanbieder van Morning Live in Julie etlike kere verseker daar is nie meer “grootskaalse rioollekke” nie, net ’n “paar probleme by sommige huise”.

“Die probleme met kabeldiefstal by pompstasies is opgelos. Ons het ’n sekuriteitstelsel wat verseker dat geen ongemagtigde mense die persele betree nie.”

Kamfersdam

Die oorvol Kamfersdam in Kimberley omgeef die spoorlyn tussen Johannesburg en Kaapstad.

Sonyoni het voorheen nie vrae van NoordkaapBulletin oor wanfunksionele rioolaanlegte en infrastruktuur volledig beantwoord, of wanneer die waterlekplekke op vars- en rioolwaterpypleiding herstel gaan word sodat water nie meer uit lekkende pype na Kamfersdam en die dam by Platfontein vloei nie.

In Platfontein het ’n watermassa sedert 2015 uit lekkende pype gevorm. Ondanks berigte en ’n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder, is die probleem nie opgelos nie. Die departement van paaie en openbare werke is onlangs verplig om die padoppervlak van die aangrensende ekonomiesbelangrike R31-roete teen miljoene rande te lig om dit vir verkeer teen die watermassa te beveilig.

Langs die oorvol Kamfersdam word die spoorlyn, aangrensende eiendom, wildplase en die N12-hoofroete na Noordwes en Gauteng bedreig.

kamfersdam

Die watermassa in Kamfersdam in Kimberley vloei weerskante van ’n hoofspoorlyn en weerskante van die besige N12-roete.

Die MRK doen ’n indiepte ondersoek na vele rioolprobleme in en om Kimberley nadat hy verskeie klagtes van inwoners ontvang het.

Intussen het Afriforum se watermonstertoetse die teenwoordigheid van E.coli-bakterieë in Kamfersdam bevestig.

Ondersoek verskeie voorvalle waar menselewens, huise deur riool bedreig word
Anthony Wyngaard, waarnemende provinsiale voorsitter van die MRK, sê hulle ondersoek verskeie voorvalle waarin inwoners se lewe en huise deur lekkende rioolwater en wanfunksionele pompe bedreig word.

“Ons het klagtes van Platfontein-inwoners ontvang dat hul grond besoedel en onbruikbaar is en rehabilitasie geweldig baie gaan kos.

“Die waarde van die eiendom het getuimel en hulle is reeds ekonomiese geleenthede kwyt,” sê Wyngaard.

“In White City is daar ’n wanfunksionele rioolpomp wat reeds 26 huise vernietig het, en nog 40 is in gedrang. Die munisipaliteit se oplossings is nie goed genoeg nie.

“Die probleme by die rioolaanleg in Green Point veroorsaak grootskaalse lekplekke wat die buurt en die veld daarom besoedel. Pompe in Roodepan veroorsaak lekplekke. Lekplekke en wanfunksionele pompe in Carters Glen bly onopgelos.

“Intussen het ’n gruisgroef in die omgewing vol rioolwater geloop.”

“Ons is verheug dat die departement van water en sanitasie reeds direktiewe aan die munisipaliteit gestuur het.

“Die probleem is veel groter as net die munisipaliteit. Die wetgewer, provinsiale en nasionale owerhede moet hul oorsigfunksies streng toepas en die munisipaliteit verantwoordelik hou.”
Anthony Wyngaard

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Noord-Kaap, “hang ’n geweldige stank in die lug by Kamfersdam”.

Kamfersdam

Kamfersdam by Kimberley, wat op talle toerismebrosjures steeds as ‘n paradys vir flaminke beskryf word. Tans is die watervlak te hoog weens die lekkende water- en rioolpype om dit ‘n ideale habitat vir die flaminke te maak. Boonop skrik die sterk rioolreuk enige besoeker af.

“Dit was dié reuk en die vermoede dat die dam moontlik met rou riool besmet is, wat ons genoop het om ’n watermonster te neem en te laat toets. Die watertoetse toon dat damwater ’n kommerwekkende gesondheidsrisiko vir mens en dier inhou.

“Ons het die munisipaliteit van die toetsresultate in kennis gestel en beklemtoon dat ons met regstappe sal begin indien die probleem nie dringend getakel word nie.”

Die Kamferdam-monster is by die privaat geakkrediteerde laboratorium PathCare getoets.

“Die toetsresultate het my vermoedens van uitermatige hoë vlakke van E.coli-bakterieë in die water bevestig. Dit is asof ’n miljoen mense se riool reguit in die dam inloop.”
Werner Strauss

“Dit is tragies dat riool inloop op die broeiplek waar flaminke, eende, ganse en verskeie ander voëls en diersoorte ’n habitat het. Beeste en skape wei langs dié dam en drink van die besmette water.”

Hy sê die toetse is deel van AfriForum se Blou-en-groendruppel-watertoetse wat in Augustus op ’n nasionale vlak onderneem is.

Bevindinge van dié toetse word later vanjaar vrygestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article