Wanneer ’n polisielid met ’n snuffelhond in sy harnas uitgeput teen ’n bedrieglike steil krans uitsukkel, moet hy sy kollegas van die soek-en-reddingseenheid met sy lewe vertrou en omgekeer.
Hierdie soort kameraderie heers in dié Noord-Kaapse polisie-eenheid ná hul onlangse terugkeer van die vloedgeteisterde KwaZulu-Natal (KZN) waar hulle in lewensgevaarlike toestande gewerk het.
Die span het ’n maand lank met ander provinsiale polisie-eenhede en die weermag aan Operasie Issa (wat steeds voortduur) deelgeneem. Hul taak was om na oorlewendes of oorskot in die puin ná die verwoestende reën en vloede in April te soek.
Intussen het nog reën in KZN uitgesak en nog verwoesting gesaai.
“Na dese koester ons die lewe nog meer,” sê kapt. John Seeley, Noord-Kaapse bevelvoerder van die soek-en-reddingspan wat lede in Kimberley en Upington het. Hy en vyf spanlede het in lewensgevaarlike toestande riviere, klowe, modderbanke, ruïnes, woude en bosse vir oorlewendes of oorskot gefynkam.
Seeley en sy spanlede – AO Ronsard Allen, AO Mike Korasie, sers. Disang Moholoeng en sers. Frank Maleho van Kimberley, en sers. Glen Eiman van Upington – was van 14 April tot 14 Mei in KZN besig.
“Met ons aankoms het ons by die gesamentlike operasionele sentrum (GOS) by die Virginia-lughawe naby Durban dadelik opdragte met koördinate van die plekke ontvang waar ons moes gaan werk,” vertel Seeley in sy kantoor in Kimberley met sy spanlede om hom.
“Soggens om 07:00 ná die parade het ons opdragte gekry en saam met die betrokke ondersoekbeampte na ’n toneel gegaan. Altesaam 853 tonele is deur die verskillende spanne nagegaan, soms in gietende reën.”
Elke span het twee opgeleide snuffelhonde gehad, sê Seeley, waarsonder hulle nie die werk kon doen nie. Baie van die tonele was onbegaanbaar omdat paaie en brûe weggespoel en bome, rotse en ander rommel die pad versper het. Op plekke is hulle noodgedwonge met helikopters afgelaai en weer opgetel.
Korasie vertel hulle het teen steil watervalle en kranse op- en afgegaan.
Die meeste lede het diarree weens die besoedeling opgedoen, of is beseer. Die twee dokters, chiropraktisyns en veeartse by die GOS het na siek en beseerde spanlede en honde omgesien.
Maleho sê dit was soos ’n oorlogsone.
“Die natuur het nie genade vir mensgemaakte infrastruktuur en huise wat teen steiltes gebou is nie.”
Volgens Allen het die slagoffers nie geweet wat hulle getref het nie.
“Die modder het in die nag gekom en hulle verswelg. Gesinne is in ’n oomblik weggeneem. Dit tref jou wanneer jy in die rivierbedding staan en swaar brugpilare sien wat weggespoel het.”
Maleho sê hulle moet in gevaarlike omstandighede op mekaar steun.
“Almal se veiligheid hang daarvan af,” sê hy.
Dit was vir almal ’n groot skok toe sers. Busisiswe Mjwara en haar snuffelhond verdrink het. Moholoeng sê hulle moet sterk staan in moeilike omstandighede. “Jy kan nie in die middel van ’n tragedie beheer verloor nie.”
Tog het hulle geglimlag wanneer hulle dankie-briewe van die leerlinge van naburige skole ontvang het.
Hul tasse is altyd gepak om enige tyd ontplooi te word.


