“Families are like branches on a tree. We grow in different directions, yet our roots remain as one.” – Onbekend
Emigrasie gedy weens ’n land waar die groen gras verdor het.
Goeie verpleegsusters se drome weens velkleur vernietig, dokters wat vyf jaar moet wag om hul studie voort te sit, ingenieurs wat moedeloos opgee, ’n pasgetroude boekhouer wat nes skop doer onder, landbouers wat elders gaan boer waar hulle meer welkom voel.
Ons het dié mense nodig, ons het hul belastinggeld nodig om ons armste mense huise, werkgeleenthede en waardigheid te gee.
Die vet katte wat in gesteelde geld rol, gee niks meer om nie.
Diegene wat oorbly sit met ’n leemte, ’n leegheid. Die stamboom se wortels en takke word uitgeruk, gesnoei.
Hokaai. Dit is een ding wat nie weggeneem kan word nie. Bloedbande, onbreekbaar. Die saamwees, die saamkuier, die saam onthou. Van toe ons nog naïef was, gedink het ons kinders gaan soos ons grootword.
Maar ons leer ons kinders wie hulle is, waar hulle vandaan kom, waarheen hulle moet gaan.
Al is dit oor die horison. Hulle kan nie meer in ons tuin gedy nie.
Tog sal ons takke altyd oor die grense reik en met ons stamboomtakke oor grense vervleg.
Ons is ieder geval ook nie meer die jong kinders wat ons was nie. Wyser. By tye het ons takke van mekaar weggegroei, ons blare weggedraai.
Die wortels so vervleg dat niks die bloedbande verdun, besoedel of vergiftig nie.


