Vir mense wat oorkant die kerk bly, is die Rooyspan dikwels ’n derde gelui.
Sondagoggende is emosioneel uitdagend. Ná twee jaar van masker dra, vergeet ons dit steeds en moet alle slotte en grendels weer oopgesluit word – en Mamma moet steeds vir Oudste herinner sy hand voor sy mond tel nie as ’n masker nie.
Soos dit hoort, is die predikant se kinders die stoutste en in ons geval die luidrugtigste ook – ongeag vuil kyke en dreigemente.
Dit moet seker so wees dat die lidmate nie te sleg voel as hul kinders effens stouterig is nie.
Wat die Rooykinders het, benewens oorverdowende volume, is energie en planne maak. Iewers tydens die preek boots Boetie Iron Man in die beknopte moederskamer na. Die meisietjies en sy eie sussie moet koes. ’n Vuil kyk later ontwikkel Boetman ’n piepie. Op pad toilet toe verander hy in ’n denkbeeldige vliegtuig.
Die 10:00-klok lui en die mense stap uit. ’n Lidmaat vra wie se kind so geskree het en Mamma wonder of sy moet swyg of bieg.
Intussen kies Oudste koers na ’n boer se spaarwiel op sy Jeep. Hy probeer die moddermerke met spoeg en sy hande skoonmaak en hardloop na sy pa en smeer sy stowwerige, vuil hande aan Pappa-dominee se swart pak af.
Tuis lees Mamma vir Oudste die leviete voor.
“Mamma se hartjie word seer wanneer jy nie luister nie,” probeer sy haar emosies verwoord.
Die blouoogseun sê doodluiters: “Jesus will fix it and put sparkles on it. Don’t worry.”