Oudste het sy haasbekfase betree.

Aanvanklik was sy boonste voortande baie los.

Mamma het gehoop hy sou sy tande in die vakansie verloor sodat sy grootouers in die vreugde kan deel, maar helaas.

’n Maand ná die vakansie kry hy sy eerste bovoortand losgewikkel.

Mamma verkyk haar aan die halwehaasbek en hoop nommer twee volg vinnig.

’n Week later byt Oudste sy tweede botand met ’n stuk beskuit los by Ouma Bloem.

Hy is ontsteld, want hy kon nie sy tand vir die tandmuis kry nie en is bang hy het dit ingesluk.

Pappa beredder die situasie en ondersoek die beskuit.

Oudste skree: “My tooth, my gorgeous tooth!”

Hy wys vir Mamma en terwyl Pappa die tand onder sy kopskussing gaan bêre, skimp hy dat die tandmuis hom R100 moet gee.

Later die dag ry die Rooyspan stad toe. Oudste vra ewe besorg of Mamma haar handsak onthou het.

“Ja, Bokkie,” antwoord Mamma.

“Good, because my teeth money is in there.”

Mamma het die tandmuis se betaling van die vorige twee tande in haar handsak gebêre totdat die gesin weer “dorp toe” gaan.

Kort ná die haasbekkie se skimp het Mamma verduidelik R100 is ’n bietjie baie vir ’n tand en dat die gesin, heel gepas, ’n kerkmuis het.

“Do you think the kerkmuis comes out during the day and the tannemuis at night? I would love to buy that Lego today still.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article