“Winter is the time for comfort, for good food and warmth, for the touch of a friendly hand and for a talk beside the fire: It is the time for home.” – Edith Sitwell
Die ysige greep wat Winter jaarliks om sentraal Suid-Afrika slaan, is nie om dowe neute nie.
Winter wil nie alleen koud kry nie.
Hy wil die mens laat besef hoekom hy teenwoordig is, wat dit beteken.
Hoe wonderlik die natuur is, hoekom plant en dier in ongenaakbare toestande oorleef.
Daarom bekyk Winter sagte mensvleis en besluit waar hy met sy les moet begin.
Sy droë koue mik eers na die tone en die vingerpunte.
Wanneer dié tingerige gebeentes blou en stram genoeg is, rig Winter tevrede sy visier op die neus en ore.
Daardie sagte soetvleisies moet ook voel hoe koud koud is.
Dan gryp hy na Mens se kind se arms en bene, die bors en die hart.
Wanneer Mens se kind genoeg bewe, weet Winter wat gaan gebeur.
Mens se kind mik vir sy huis, die stoof, kaggel en die bed.
Dis tyd om vroeg in die bed te kruip, diep te slaap, te rus onder snoesige lakens en komberse.
Of na die knetterende vlamme in die kaggel te staar en te besin, te lees, na musiek te luister.
Behaaglik aan dik, warm sop te sluk, te voel hoe die innerlike gevoed word.
Dit is dan wanneer Winter tevrede kop knik.
Die mens moet ook hiberneer, ter wille van oorlewing.

