“And so with the sunshine and the great bursts of leaves growing on the trees, just as things grow in fast movies, I had that familiar conviction that life was beginning over again with the summer.” – F. Scott Fitzgerald, The Great Gatsby
Verlede week was dit die perskeboom wat pienk in bloeisels getooi is. Vanoggend sien ek nog blomme verskyn aan die boom langs die swembad.
‘n Varkoor dreig al van Vrydag af om ons met sy eerste blom te bekoor. Bokant hom glimlag die jasmyn vrolik in sy nuwe groen kleed. Een van die dae gaan hy ons bedwelm.
Die avokadoboom, vir wie ek soveel verwagtinge koester vandat hy ewe astrant self opgekom het, se takkies spog met onontwikkelde blomme en nuwe blare. Hopelik dra hy eendag volryp avokado’s, as ons somer nie te warm en droog is nie. Bid asseblief saam met my vir dié boom. Niks is so lekker soos ‘n vars geroosterde sny brood, waarin die botter weggesmelt het, gesmeer met romerige avokado en met sout en suurlemoen bestrooi nie.
Die koms van eers die lente, dan die somer, is amper magies.
Die oomblik wanneer die winter sy lang asem uitblaas en somer sy asem intrek. Die blare ontvou met dringende, groen energie, en skielik voel alles weer moontlik.
Die verandering in seisoene weerspieël iets diepers in ons ervaring. Ons binneste kom tot lewe. Ons kyk anders na alles om ons.
Dit was die regte tyd om ons huis te vernuwe, al was die stof, die geraas, die omwenteling verskriklik. Uit ons winterslaap geruk.
As ons nie vernuwe, as ons nie ons leefwêreld vernuwe nie, gaan ons stagneer. Want ons word nie jonger nie, nè.
Werp die swaar winterjasse af; verruil dit vir die ligte klere van avontuur.
- Lees nog rubrieke hier.



