You never really know what’s coming. A small wave, or maybe a big one. All you can really do is hope that when it comes, you can surf over it, instead of drown in its monstrosity.”

Só sê die skrywer Alysha Speer.

Ons verdrink die afgelope weke in nuus oor die vernietigende krag van water. Mense wat in hul motor weggesleur word, landerye en wingerde wat vernietig is, enkelinge wat verdrink, diere wat op eilande vasgekeer word, huise en plakkerskampe wat oorstroom, bome wat ontwortel word.

Mense is ontredder, mismoedig en wanhopig.

Tog juig boere in die droogte­geteisterde Boesmanland en Karoo oor die mildelike reën. Die veld was lanklaas so groen, gronddamme so vol. Boere het lanklaas so breed geglimlag.

Vir ’n slag is die gesprekke ná die kerkdiens nie meer so mismoedig nie, maar gemoedelik. Boervroue maak strikke en plaas dit op plaasheinings om hul vreugde uit te basuin en dankie te sê.

Die bruisende Augrabies-waterval wek vreugde en vrees in ’n indrukwekkende vertoning. Dit is ’n magtige watermassa waarteen die mens nie bestand is nie. Selfs nie die aarde nie, waar water oor eeue heen klowe in rotsbanke gekerf het.

Dit is dieselfde water wat kalm aan die kante van die Oranjerivier kabbel, die dorre aarde lawe, plante nuwe lewe gee en aan dorstige diere lafenis bied.

Water vloei in stroompies oor die veld en stuur boodskappe van vernuwing na benede.

Water word gehaat, bewonder, gevrees, gekoester. Respekteer dit.

You need to be Logged In to leave a comment.