“With so much evidence of depleting natural resources, toxic waste, climate change, irreparable harm to our food chain and rapidly increasing instances of natural disasters, why do we keep perpetuating the problem? Why do we continue marching at the same alarming beat?”

Dié woorde van die skrywer Yehuda Berg laat ’n mens wonder.

Kwazulu-Natal loop weer deur onder water, wind en verwoesting. Paaie en brûe is vernietig, huise weggespoel en mense en diere is dood. Die ekonomie van ’n provinsie en die land verder geknak ná verlede jaar se vernietigende geweldpleging en plundering.

Die groen provinsie word ’n oorlogsone vir mensgemaakte probleme en natuurrampe.

Daarom bly ons dankbaar vir die polisie, weermag, nooddienste en ander betrokkenes wat van oor die land heen kom om mense te red. Andersins gee hulle afsluiting aan oorlewendes deur in gevaar­like toestande na geliefdes te soek.

Dit is ’n gevaarlike werk, ’n taak waarin een polisielid en haar hond hul lewe verloor het.

Die lede moet in besoedelde water vol riool en ander gevaarlike menslike afval swem, oor rotse en ander hindernisse klim en watervalle aandurf om hul daaglikse opdragte te doen.

Saans slaap hulle in ’n vreemde bed, ver weg van hul lewensmaat, kinders en troeteldiere. Elkeen het ’n taak voor oë: om hul medeburgers onselfsugtig te dien.

Ons moet die oorsake van natuurrampe verminder. Wat doen jy om aardverwarming te halt? Herwin jy huishoudelike afval? Verbrand jy so min moontlik brandstof? Hoe groen leef jy?

Dit is tyd om te doen en op te hou praat.

You need to be Logged In to leave a comment.