“It is health that is real wealth and not pieces of gold and silver.” – Mahatma Gandhi

Geld kan ’n magsgevoel groter as die aardbol meebring. Dit kan met ongevoeligheid, arrogansie, ’n wolk van meerderwaardigheid en minagting teenoor ander gepaard gaan.

Die man wat sy lip vertrek wanneer hy bevele uitblaf. Die staal in sy oë boor deur aardse siele. In besprekings sal hy vir insae oor sy voorstel vra, maar die onverbiddelike stemtoon het klaar gepraat: Geen beweeg­ruimte, geen onderhandeling, geen toeskietlikheid nie.

So magtig is hy, die vel so dik, die vere so gewaks dat kritiek soos kwikdruppels afrol. Hy kan sê, hoor, sien, ruik en voel wat hy wil. Solank die bankrekening al swaarder word, en portefeuljes van besittings uitgebreid, al meer eksklusief, al meer ontoeganklik vir die gepeupel.

Asof hy van bo neerkyk, sy wortels heeltemal uitgetrek van die aardbol. Sy vlerke raak-raak aan die son. As hy net nog tyd en gesondheid met sy sewe sikkels kan aanskaf, is alles perfek. Dis al wat hom ontwyk.

Iets wat geld nie kan koop nie. Wat hom gelyk kan maak met sy onderdane.

Hy kan maar net bid geld kan hom genees van menslike donkertes soos kanker, demensie, Alzheimer se siekte, long-, hart-, nier- en lewersiekte, beroerte, neurologiese siektes, motorneuronsiekte of veelvuldige sklerose, Huntington se siekte, spierdistrofie of MIV/Vigs.

Siektes en ’n verterende onvergenoegdheid kan die was aan die despoot en magnaat se vlerke laat smelt.

You need to be Logged In to leave a comment.