mother and daughter love
Ter illustrasie FOTO: Elina Sazonova / pexels.com

“Ek is jou pit,” antwoord Jongste parmantig. Dit nadat Ouma haar as ” ‘n ander pampoen se pit” klassifiseer het.

Sedert die sesjarige se tong ontknoop het, het sy gedurig ‘n antwoord op alles.

Haar gunsteling-woord is “nee” – selfs al verander sy later van besluit.

Sy vra een aand haar pa vir speensalf toe hy sy skurwe voete invryf.

Hy gee die pot pienk salf aan en sy merk op dat dit amper op is.

Rooypa vra ewe retories hoe dit kan wees, wel wetend Jongste vergryp haarself daaraan.

“Jammer, Pappa,” antwoord sy terwyl sy pienk salf probeer invryf.

Sy probeer die dik laag salf wegwerk en smeer selfs tot agter haar ore room en die Yorkie- worsie-kruising moet koes.

“Smeer sommer ook aan Pappa se voorkop, kyk hoe kraak sy voorkop al van die ouderdom.

Hy het die ene fronse,” terg Rooyma.

Kleinste wys met haar wysvinger na sy bedkassie en sê selfversekerd: “Dis jou room, jy doen dit, daar staan dit,” voordat sy squish-squish haar pienk, gladde handjies teen mekaar die gang af vryf.

Dié meisie laat maak haar ook nie stil nie.

“Sjoes, ek praat,” sal sy maklik ‘n onderbreking fnuik.

Ook onder gebed as die gesin haar tot “amen” wil dryf:

“Dankie Jesus vir ponies en koekies en bokshuise vir my diere.” ‘n Lang stilte volg.

Die Rooyspan skimp met ‘n “a” dat sy moet “amen” sê sodat die ander huismense ook kan bid.

“Sjuut, ek bid nog,” raas sy met haar toe oë en handjies teen mekaar.

Sy rek egter die a-klank uit.

“And”.

Oomblikke tik verby.

Ná ‘n Kersfeeswenslys sê sy eindelik “the end”.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article