Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel. – Afrikaanse spreekwoord

Hoekom is daar soms versoeke dat ons sekere beleërdes jammerder moet kry? Met meer agting behandel, voorkeur gee, terugtree, na hul versoeke luister, hulle die voordeel van die twyfel gee?

Omdat hulle oud of jonk is, man of vrou, vet of maer, sieklik of gesond, wit of swart, gelowig of nie?

Dit is ’n belangrike lewensles.

Die les dat boosdoeners, bedrieërs, huigelaars, booswigte, spekskieters, verradelikes, uitgeslapes, glibberige fariseërs ook oud of jonk, sieklik of gesond, wit of swart, gelowig of nie is. Dat hulle onder en soos ander mense lyk en leef.

Lank gelede het ek nadat my inkopies gedoen is skielik ’n behoefte gehad.

Ek het my inkopiesakke by twee sittende bejaardes gelos en gevra of hulle daarna sou kyk. Vir my het hulle eerlik voorgekom. Hul sakke was eenkant, weg van myne.

Die inkopiesakke was veel ligter toe ek dit optel. Ná drie treë het ek omgedraai.

“Jammer, ons het gedink dit is ons s’n,” was hul verweer.

Op ’n ander keer was dit weer ’n spekvet, kruppel bedrieër wat my wou oortuig hy is ernstig beseer toe hy as ’n “verkenning­soldaat vir volk en vaderland” uit ’n vliegtuig in Mosambiek moes spring en sy been op ’n ammunisiekas te pletter geval het. Het ek vir hom geld, want hy gaan ’n regse sameswering ontbloot?

Die knikkende gryskoppe sit in die beskuldigdebanke vir beweerde misdade van lank gelede.

Sou die waarheid uiteindelik snelle leuens inhaal?

You need to be Logged In to leave a comment.