“But he is an Italian,” was Umberto’s sensible reply. “He doesn’t care if you break some law a little bit, as long as you wear beautiful shoes. Are you wearing beautiful shoes? Are you wearing the shoes I gave you? … principessa?” I looked down at my flip-flops. “I guess I’m toast.” – Anne Fortier, Juliet
Ek bevind myself in die middel van ‘n vreemde toneel – aangebied as ‘n feëverhaal, maar met die wrang smaak van ‘n nagmerrie.
Die strate is oorvol, mense is haastig en geklee in uitspattige, indrukwekkende skoene: spykerhakke, blink tekkies, selfs sandale met vlerke.
Maar ek? Ek kyk af en besef met skok – my voete is kaal.
Elke tree is ‘n uitdaging.
Die grond onder my is onverwags hard en koud.
Stof, klippe en selfs vreemde slakke laat my gril.
Die skare kyk op my neer, nie met simpatie nie, maar met ‘n vreemde afkeur.
“Waar is jou skoene?” vra een spotter ongeduldig, sy wenkbroue hoog in ongeloof.
Ek probeer verduidelik, maar daar kom geen klank uit my droë mond nie.
Dan die klimaks. Ek moet oor ‘n vuurwarm teerpad loop om by ‘n belangrike bestemming uit te kom – ‘n plek waarheen ek nog altyd wou reis.
Ek voel hoe die hitte my voete brand, maar ek moet voortbeur.
Die mense klap hande, nie uit aanmoediging nie, maar asof ek deel is van ‘n groot vertoning waarin my ongemak die hoofvermaak is.
Ek hoor die hoonlag. Net wanneer ek begin skreeu, skrik ek wakker.
Sweet tap van my voorkop af. Ek swaai my voete van die bed af, tas angstig op die vloer rond.
Ek gryp na die paar pantoffels en trek dit vinnig aan.
Loop na my half gepakte tas op die spaarbed, klere net waar jy kyk. Ek het nog geen skoene gepak nie!


