white ceramic mug with brown liquid
Ter illustrasie. Foto: Cottonbro studio/pexels.com

Hoe erger die emosies of omstandighede, hoe sterker moet die tee getrek word.

Dit is Ouma Lappies se leefleuse.

Sy glo ‘n koppie of twee is goud werd.

Vir haar is tee nie net ‘n drankie nie, maar ‘n ritueel – ‘n manier om emosies te verwerk en rus te vind.

‘n Koppie tee is haar “trosie” en antwoord op hartseer, afwagting en selfs ‘n duskant rooi moermeter, of as die “water oor die brein wil styg” – om haar woorde aan te haal.

Onlangs win Rooyma raad in oor hoe om ‘n relletjie met ‘n vriendin uit te klaar.

Die raadgewer beveel ‘n koppie-tee-kuier aan om die lug mee te suiwer.

Teesakkies is immers die verpersoonliking van vrouwees, want die gesegde lui: “Jy weet nooit hoe sterk vroue is totdat hulle in warm water beland nie.”

Liesel Krause-Wiid skryf op haar Facebook-blad: “Soos ‘n teesakkie die water in ‘n teekoppie begin verkleur, geur en smaak afgee terwyl dit trek, so verander God se gees ons wanneer ons Hom in ons lewe innooi.”

Afgesien van die lewenswaarhede wat uit ‘n sakkie tee “getrek” kan word, bied die gebruik van ‘n teesakkie ook medisinale waarde van uiteenlopende aard.

Dit bevat anti-oksidante wat inflammasie beveg; dit bied troos vir moeë oë en sonbrand.

En soos Ouma Lappies tydens haar tandartsjare geleer het, help dit bloeiende mondwonde stol.

Dié met groen hande kan dit ruimhartig in die tuin gebruik om plantgroei aan te moedig, grond te bevog en peste te verdryf.

Geniet jou koppie tee tydsaam.

Vermy ‘n kasaterwaterlewe.

As die nood druk, kan ‘n gedroogte teesakkie selfs as papier ingespan word.

Wie sou kon dink ‘n teesakkie is so veelsydig?

Dit is geen wonder nie dat hulle – soos vroue – dikwels onderskat word totdat die water kook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article