Kort voor die aanbreek van die skooljaar vra die jongste tuisonderrig-Rooye vir “skoolwerkies”.

Mamma-Juffrou probeer haar geesdrif ignoreer, want sy vermoed Jongste se versoek is hoofsaaklik vanweë haar pika-neigings omdat sy die vakansie byna ’n bol speelklei en ’n paar gram gom geëet het.

Dag een van tuisonderrig loop Sussie gang-af voordat die eerste deel van haar “program” klaar is. Mamma laat die gr. R-kind begaan; sy snoep immers die Rooy-kinders met twee ekstra skooldae.

Dag twee bly Sussie met om­koop en mooipraat tot ná die ge­tellery en ’n halfgebakte tema­bespreking. Toe sy met opvoed­kundige speelgoed, onbekend aan haar, moet speel, pak sy dit netjies terug en sê: “Excuse me”.

Laatmiddag sal sy lus kry vir “skoolwerkies”. Dit is toe presies die oomblik dat haar ma se hande in die grond is.

Op ’n opgetrekte wenkbrou sê sy: “Thanks Mamma, for pulling the weeds.”

Teen die derde dag hou sy langer uit, maar nie sonder verset nie. Haar verskonings strek van “my vingertjies is seer”, “ek kan nie” tot “I’m busy”.

Tussendeur het Houdini by Ouma vir ’n “snackie” aangeklop, maar die slawedrywerjuffrou het haar pouse gaan haal. Daar het sy teen die palisade op ’n klip ge­staan, en die kleuterskool langsaan se lief en leed waar­geneem – nie dat sy daar wil wees nie. Met die vorige poging was dit soggens trane en viervoet-vasskop. Op versoek dat skool voortgesit word, sê sy: “No, but thanks for asking.”

Sussie het dalk nie lus vir skool nie, maar dit lyk of sy maniere het en “nee” kan sê.

You need to be Logged In to leave a comment.