“If animals could speak, the dog would be a blundering outspoken fellow; but the cat would have the rare grace of never saying a word too much.” – Mark Twain
Dis pikdonker, vroegoggend êrens in ’n woonbuurt se strate.
Hier en daar blaf ’n brak, die vragmotors snork op die hoofweg. Die helfte van die buurt slaap nog, ’n paar siele oefen.
Die hond se mens het warm klere, ’n sweetpakbroek en baadjie aan. Twee honde aan die leisels.
Nie sommer enige hond nie.
Dis die stoutste, soetste, mooiste, lelikste, lojaalste en jaloerse soort. Dié wat die tuinslang jaag, in die water speel, die grassnyer se wiele byt, die sokkerbal gang af jaag, ’n besem se nerwe uitpluk. Die wit brakke met die bruin en swart kolle.
Jack Russels.
Viertrekbrakke wat laag op die grond vastrap, ’n volwasse mens voortsleep na die boom op die hoek waar ’n ander brak ’n boodskap vir hom of haar gelos het.
Dan moet brak eers pote oor die gras trek, ’n blaf los, ’n magsvertoning lewer.
Bewaar die een se siel wat ooit sy dapperheid, sy durf en sy duiwelstreke betwyfel.
Die een wat elke grashalm aan die een kant op, en die ander kant af besnuif. Wat mal raak wanneer ’n kat in dolle vaart oor die straat skiet.
Hoe kan sy mens die swyende kat wat haar op ’n straathoek verwelkom, net optel en vryf?
Die kat wat so slinks glimlag. Lyk vir hond se kind hy kan ’n mens maklik verlei, sonder malse manewales.

