Skaars wakker ná die eerste goeie nagrus in ’n lang ruk, kry Mamma ’n “medium-sized” elmboog tussen die ribbes.
Oudste het homself in die aand in die middel van die koningingrootte bed ingewurm.
Nes dit in sy aard is, begin die stortvloed woorde met die oopgaan van sy oë. Terwyl hy ongesteurd met sy wysvinger in sy neus grou, vra hy waaroor sy “mother” gedroom het.
Voor Mamma kan antwoord, raas sy eers.
“I am doing it the traditional way,” praat hy terug. Half geskok bied Mamma ’n sneesdoekie aan.
“It is okay, the traditional way is better,” wys Oudste die aanbod van die hand. Voor Mamma ’n woord kan sê, wil die “medium-sized kid” weet wat die dag se planne is. Hy herinner Mamma sommer in dieselfde asem Saterdae is fliekaande. Pappa ontwaak intussen.
“I want to give you a hug, but you have to get up,” skoert hy sy pa vroegoggend uit die bed.
Voor ontbyt mop Pappa die kombuisvloer. Hy staan ’n oomblik stil met die mop in die hand toe Oudste soos ’n grootmeneer vra hoekom sy pa dan nie mop nie.
“Clean the floor and be careful, wet floors can be slippery,” waarsku Wysneus terwyl hy oor sy bril loer.
Skaars is die vloer droog, toe wil Oudste weet wat sy geskenk vir Kersfees gaan wees. Hy fluister twee desibel sagter as sy praatstem: “Tell me, I promise I won’t tell.” Sy pa antwoord in sy wysheid hy sal daaroor dink.
Een asemteug later wil Oudste weet: “Are you still thinking?”
Saterdagsaligheid blyk vir eers iets van die verlede te wees.

