“We need four hugs a day for survival. We need eight hugs a day for maintenance. We need 12 hugs a day for growth.” − Virginia Satir
‘n Eensame ouma sit in haar leunstoel, haar arms om haarself gevou. Die stilte druk haar asem uit haar longe, die bloed uit haar hart. Sy smag na ‘n omhelsing.
Dink aan die jong man wat ná ‘n lang dag by die werk tuiskom na ‘n leë huis. Geen reuk van ‘n bredie, niemand wat hom verwelkom nie.
In ‘n hoëtegnologie-era vergeet ons maklik van een van die mens se mees dringende behoeftes: fisieke aanraking. So natuurlik soos asemhaal, speel dit ‘n onmisbare rol in fisieke en emosionele welstand.
Navorsing toon dit is nie net ‘n luukse nie, maar lewensbelangrik. Wanneer ons iemand aanraak of aangeraak word, stel ons liggaam oksitosien vry − die “liefdeshormoon” wat stres verminder en ons immuunstelsel versterk. ‘n Omhelsing kan kortisolvlakke verlaag en endorfiene vrystel.
Vir babas en kinders is aanraking letterlik lewensbelangrik. Studies toon dat vroeggebore babas wat gereelde massering ontvang, vinniger groei en beter ontwikkel. Kinders wat in ‘n omgewing met gereelde fisieke aanraking grootword, ontwikkel sterker emosionele intelligensie en beter verhoudings.
Die sielkundige voordele van aanraking strek veel verder as wat ons besef. ‘n Hand op die skouer in moeilike tye kommunikeer empatie op ‘n manier wat woorde nie kan nie. Selfs vlugtige aanraking, soos ‘n vriend wat jou arm saggies raak, kan jou gemoedstoestand lig.
Ons leef in ‘n tyd van armoede van aanraking. Sosiale afstandhouding, lang werksure en groeiende afhanklikheid van tegnologie ontneem mense. Dit dra by tot depressie, angs, ‘n gevoel van isolasie.
Jy kan bewustelike keuses neem om betekenisvolle fisieke kontak in jou lewe in te sluit. Omhels jou geliefdes langer. Aanraking is nie ‘n luukse nie, dit is noodsaaklik.
- Lees nog rubrieke hier.


