Die Rooyspan kuier die vakansie in die bosveld by “Oupa en Ouma se Kind” soos Oudste na hulle verwys omdat hulle hom so noem.
’n Klipgooi van Musina kampeer Mamma se instaanma uit haar Kemptondae.
Hierdie surrogaatma en haar man het al ’n tradisie om sedert hul aftrede, nes swaeltjies, agter die warmer weer vir die helfte van die jaar te migreer. Daar word ondanks beurtkrag oor en weer gekuier.
In Oupa Bos se studeerkamer vertel die instaanma, wat self raak-raak aan 70, die “ou tannies” praat net oor seks wanneer sy Bybelstudie vir die vroue in die karavaanpark wil aanbied.
Mamma bloos oor die tannies se uitgesproke stuitigheid en vra vir manlief of hy gehoor het en of hy, as ervare prediker, enige raad het om die senior burgers op ’n ferm, dog mooi manier tot orde te roep én hoe om die uit-die-kamer-praatjies te demp.
Voordat hy kon blik of bloos, beredder instaanma die situasie: “Wag, dit staan vir swem, eet, kuier en slaap.”
Manlief bars uit van die lag vir Mamma se rooi gesig. Toe die gaste vertrek, roep manlief met die laaste waai: “Mooi bly en geniet die seks!”
En dit duskant die kerkheining en neffens sy predikantpa wat met die verduideliking van die akroniem aan die gesels met iemand anders was.
Wie sou kon dink manlief moes ooit vir sy pa ’n verduideliking van die woord gee . . .

