“I was assailed by memories of a life that wasn’t mine anymore, but one in which I’d found the simplest and most lasting joys: the smells of summer, the part of town I loved, a certain evening sky, Marie’s dresses and the way she laughed.” – Albert Camus, The Stranger
’n Mens kan in musiek verstik.
Verdrink in herinneringe van lank, lank gelede wanneer klanknote soos siedende branders oor jou spoel.
Om en om tol jy in die onthou, goed en sleg.
Jy snak na asem, jou keel trek toe, jy wil huil, jy wil lag.
Jy was nie voorbereid op die liedjie wat oor die motor se luidsprekers dreun nie.
Jy het nie geweet jou bloed kan ook dreun nie.
Wanneer jou vingers wit span om die stuurwiel, jou trane vlak sit, jou breingolwe jou wegvoer na lank gelede toe die wêreld nog veilig was.
Jy is weer die jong kind, die een met die baie nefies en niggies wat elke vakansie by ’n ander tannie kuier, of met tye op julle toesak.
Ma’s staan agter die kospotte. Kinders om die tafel gekring, kieste vol kos. Netnou gaan hulle weer swem, die koppies uitklim, in die ondergrondse pypnetwerk piekniek hou, tennis speel, en natuurlik ’n ietjie stry en baklei.
Later, as tieners en jongmense, draai en swaai hulle op die dansbaan, sluk ’n bietjie te veel van die toorsappies, vat mekaar huis toe, niggies wat op die bed in die donker fluister.
Eensklaps het die lewe ons in grootmense verwring.

