Kameeldoring: Ons ‘oorlog’ anders

“War is not just the shower of bullets and bombs from both sides,” skryf Amit Kalantri in sy boek Wealth of Words. “It is also the shower of blood and bones on both sides.”.


“War is not just the shower of bullets and bombs from both sides,” skryf Amit Kalantri in sy boek Wealth of Words. “It is also the shower of blood and bones on both sides.”

Tot ’n maand gelede het slaggate soos bomkraters gevoel.

Diep gate waarin die motor se wiele knak, die vere sug en die bestuurder van woede wil ontplof.

Knope word gelos en politici verwyt, hulle wat in staatsmotors ry en nie self vir die skade aan motors betaal nie.

Anders as politici en staatsamptenare wat nie omgee om staatsmotors te beskadig nie, moet motoriste hard werk om motors te bekostig en te onderhou.

Wanneer slaggate kwansuis reggemaak word, word die uitgekapte teer langs die pad saam met ander rommel gelos.

Die geveg teen swak dienslewering voel soos ’n nimmereindigende oorlog.

Maar wanneer ’n mens beelde uit Oekraïene sien – van bomme wat kraters in die aarde skeur, van ma’s en kinders wat vir hul lewe vlug – verander die prentjie.

Dan is ’n mens dankbaar dat ’n slaggat nie ’n bomkrater is nie; dat die rommel net papiere is en nie stukke van ’n opgeblaasde hospitaal of huis nie; dat die verwaarloosde brug in Beaconsfield nie opgeblaas is nie; dat dit beurtkrag is, en nie ’n algehele krag- of wateronder­breking weens sabotasie nie.

Ons voer steeds ’n oorlog, ’n daaglike veldslag, teen onbeholpe en oorbetaalde amptenare en korrupte politici – maar ons is nie in ’n bloedige oorlog vasgevang waarin ons lewe niks meer werd is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.