“Knowing your generational story firms the ground upon which you stand. It makes your life, your struggles and triumphs, bigger than your lone existence. It connects you to a grand plotline.” – Cicely Tyson, Just as I Am

’n Klompie jare gelede staan ek en my broer in die loopgraaf by Magersfontein, reg voor die koppe waar die Engelse meer as ’n eeu gelede die spit afgebyt het.

Die veld waar patroon­doppies voorheen gesaai gelê het. Die plek waar die bloed van vele burgers, selfs Skandinawiërs, en Engelse soldate in die aarde en die grond ingesyfer en onsigbaar geraak het. Ons DNS wat daar weggesink het, het tot ons diepste wese gespreek.

Was dit die rede dat ek altyd so aangetrokke tot die plek was?

Aanvanklik het ons nie geweet ons oupagrootjie, glo ’n plaatjie wat graag stoute grappe vertel het, het hier geveg nie. Volgens sy medaljesertifikaat ook by Belmont, Modderrivier en die Vetrivier.

Hy was ’n jong man van 20, een van vyf broers van Hoopstad wat hul ouerhuis en plase vir volk en vaderland agtergelaat het. Hulle het op ’n ossewa met agterryers gekom; so verklaar hy in die argief se dokumente. Dié skatkis vol nuwe inligting het my pa verwonder, want hy het dié ou korrelkop geken.

Sy oupa het sy lewe lank enige Engelsman verpes. Veral die een wat by sy dogter aangelê het. Die vent mag dit net tot by die tuinhek gewaag het. Alles verhale wat my aan dié vasteland anker.

You need to be Logged In to leave a comment.