There is a hole in our family where you used to stand. There’s a hole in my heart for which I never planned. I will miss you every day until we meet again. – lovetoknow.com
Jy het met die sekelmaan gegaan, van bo as ’n flonkerende ster gegroet. Die uitspansel so swart soos my gemoed.
Ons staan verslae, geskok, verstar. Hoekom jy, hoekom nou? Jou aardse take voltooi, soos jou pa en tweelingbroer. Saam met al die ander neefs en niggies en tannies en ooms wat te vroeg heen is.
Hulle wat nou vir jou grappies lag, wat jou diep omhels, terwyl ons op moeder aarde spartel om sin te maak. Die dood wat geen begrip toon vir ons wanbegrip nie.
Jy en jou tweelingbroer, beide in die fleur van jul lewe, laat pragtige vroue en dogters, jul ma sonder seuns. Jy het deeglik vooruit beplan vir ’n aftrede oor ’n paar jaar, die dinge wat julle sou doen, die plekke wat julle wou verken.
Soos die Noord-Kaap wat jou gereeld getrek en verlei het. Dit kom seker uit ons kinderdae in die stad, toe nog half plattelands. Die kinders van ’n paar susters wat soos ’n bende vir niks bang was nie.
Herinneringe van die Hennopsrivier se modder aan ons hande, seerkry en duwwels in die koppies van die Wes-Rand, die waternat van die Jukskeirivier waar ons kleilatte gevleg het. Later jare die storm en drang, saamkuier as tieners en jongmense.
Al groet ons, sal ons nooit vergeet nie.


