Laat alles net weer na normaal terugkeer en alles wees soos wat dit was!
Dit is deesdae die versugting van mense oor die wêreld heen.
“Die goeie oue tyd” toe nog gesellig saamgekuier en dampies geslaan kon word. ’n Mens vir elke bakatel in jou motor kon spring, en ’n onsigbare vyand en sy sigbare draers nie jou lewe bedreig het nie.
Die situasie voor Covid-19 was eweneens nie perfek nie, en die inperking het wel sy goeie kante gehad.
Veral die impak op die ekologie. Mense in wêreldstede kon skielik weer asemhaal en ruik; voëls kon sing en nie meer hoes nie.
Stadsinwoners, meteens ontslae van geluidsoorlas, het met verbasing besef dat stilte nodig is om te dink.
Die inperkingstyd het ou skeidslyne wat vaag begin raak het, opnuut helder getrek: dié tussen ryk en arm veral; ’n breuklyn wat wêreldwyd dikwels rassekontoere vertoon het.
Maar selfs verskille tussen ou vyande soos Amerika aan die een en Rusland en China aan die ander kant, en hier te lande tussen demokrate en outokrate, het sigbaarder geraak.
Veral omdat die laasgenoemde se fascistiese (en kommunistiese) onderrok dikwels uitgehang het.
Die inperkingstyd het orals helde gehad.’n Hoogs bejaarde oorlogsveteraan wat voort-strompel op sy loopraam om geld vir behoeftiges in te samel.
Mense wat belangeloos gewerk het ten bate van ander; dikwels sonder inagneming van eie gemak en veiligheid. Soms omdat hulle móés, maar meer dikwels omdat hulle wóú.
Skurke was ongelukkig ook volop. Mense wat – teen wetlike bepalings – kilometers gery het na strandhuise en buiteverblywe op die platteland.
Mense wat ander te na gekom en afgeknou – en soms vermoor – het. Omdat hulle wou én omdat hulle kón. Meestal beskerm deur posisies en uniforms.
Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.
Ook omdat die besef posgevat het dat niks – selfs nie die tegnologie – die mens onaantasbaar maak nie.
– Hennie van Coller, Volksblad (09/06)