Kameeldoring: ’n Oomblik al wat nodig is

Die Rooyspan se kom-wat-wil-cappuccino-tyd is ’n redding in die pastorie en vir Mamma se siel.


Die Rooyspan se kom-wat-wil-cappuccino-tyd is ’n redding in die pastorie en vir Mamma se siel.

Dis dan wanneer die kinders buite speel en die groter Van Rooyens tyd kry om – meestal sonder onderbreking – ’n paar woorde of idees te wissel.

Dis ook die tyd wanneer Mamma probeer om haar pap “tyres” te laat rus ná ’n uur van tuisskool.

Die stilte ná die storm is van korte duur voordat een van die kinders skree oor die een of ander onreg of die hond wat iemand lek.

Oudste is ongelukkig omdat Sussie met “sy” Tarzan-tou speel. Pappa probeer die konflik ontlont en trek Oudste na die groentetuin.

Mamma volg, beker in die hand, om te kyk wat die groentetuin vandeesweek opgelewer het. Gou begin Oudste delegeer. Mamma moet groot ertjiepeule, wat dié nie-groente-eter se “favourite” is, help soek.

“Ek drink nog,” gooi Mamma wal.

“It’s not time for drinking cappuccino. It is time to harvest. Boere don’t drink cappucino,” sê Oudste met sy hand op die heup.

Mamma drink verder en komplimenteer die spinasie. Oudste soek na die grootste spinasieblaar. Hy pluk een uit en druk dit in sy ma se hande.

“This is for you because you love spinasie and I love you.”

Oudste keer met sy hand in die lug toe dit omdraaityd is.

“Just give me a lot of bietjie oomblik.”

’n Halwe, koue beker cappuccino is oor en Mamma dink: “Just give me a lot of bietjie oomblik, too.”

You need to be Logged In to leave a comment.