Dis laat en Oudste wil nie slaap nie.
Eers kom flikflooi dié naguil by Mamma om sy eie troeteldier te kry wat nie soos die twee Rooyspan-honde in die erf “ingehok” is nie.
Wanneer Mamma hom sagkens in die rigting van sy bed aanmoedig, begin hy om 21:12 teologiese vrae vir sy pa vra.
Hy wil nou weet oor die “world serpent” (dankie, Ninjago) en of dié karakter uit Lego-land by God leer hoe om goed te wees.
“I’ll tell you tomorrow” is nie ’n aanvaarbare antwoord nie, want volgens oudste kan Pappa mos nóú google.
Die krag en die internet is immers aan.
“Quite possibly” klink ook nie goed genoeg om Oudste se vraag tot rus te laat kom nie.
“Ask your mother.”
Pappa se derde antwoord koop tyd, want Oudste antwoord: “I’ll ask her tomorrow because she must sleep. She is tired.”
Ons hou nie van beurtkrag nie, maar dit hou een voordeel in: Kerslig – of verveling – kry die Van Rooyen-kroos vroeër as gewoonlik aan die slaap.
Mamma slaak ’n sug van verligting wanneer Oudste besgee sonder dat dit lampolie weens beurtkrag se slaapsandjies kos.
Mamma dank opnuut haar sterre dat môre nog ’n dag is.
Elke môre bring immers vars wysheid, genade en antwoorde.
Die môre-is-nog-’n-dag-verweer hou ook ouers se swartboekies skoon van (noodgedwonge) witleuentjies en verdraaide waarhede.