“Money doesn’t fix the world, responsibility does. Responsibility puts a roof over the homeless, responsibility puts food in empty stomachs, responsibility elevates the fallen and forgotten parts of the world,” Abhijit Naskar, Find a Cause Outside Yourself: Sermon of Sustainability
Geld wat in meubels versteek word, kan sekerlik nie oortuigend verduidelik word nie. Waarskynlik ook nie die meer as R30 miljoen wat die grootkop van die Nasionale Loterykommissie glo aan ’n huis in Gauteng bestee het nie.
Die grootste provinsie spring ook nie vrae oor geldbesteding vry nie. Hoe is die R500 miljoen aangewend wat Kimberley se glans moes herstel? Geen gehoor word gegee aan versoeke om te verduidelik hoe die geld gebruik is nie. Dit smaak die geld het in die derduisende slaggate verdwyn, weggespoel saam met lekkende water of in riooldamme verrot.
Gerugte gedy van miljoene wat grootkoppe met die uitbreek van die pandemie gevat het vir die tender vir persoonlike beskermende toerusting. Maar die staatshospitaal verkrummel.
Pasiënte kry koud weens ’n gebrek aan genoeg komberse, operasies word uitgestel weens personeeltekorte, bejaardes moet op en af met trappe sukkel vanweë onklaar hysbakke.
In ’n plek waar higiëne moet seëvier, staan wasbakke vuil en krane stukkend.
Armes, werkloses en ongelykes se lewe verbeter nie werklik nie.
Laasgenoemde smag na en verdien ’n werkende, onkreukbare en verantwoordbare provinsiale regering, nie mooipraatjies van ’n moderne, groeiende provinsie nie.

