Rooyma word opnuut deur haar moedertaal bekoor. Sy pleeg die rooitaal as dit moet, met aarsel en hakkel, maar Afrikaans is haar voorkeur- en hartstaal.
Die eeuviering van die taal maak haar opnuut dankbaar vir en bewus van die ryke woordeskat van dié destydse kombuistaal.
Hoewel die Rooymiere hanskakies blyk te wees, het hulle ‘n sterk Afrikaanse onderbou en -toon. Hulle geniet dit om in Afrikaans kwaad te word. Die plofklanke knetter met: “Dooie d*nner, tog”.
Jongste sal afhaak met “o, gaats” of “o, grot” ná ‘n aspris-ongeluk.
Saans voor die wasbak toets Oudste idiome en jaag sy pa in die proseslyn aan met “die son trek water.” Wanneer die honde oorgretig is, word “stop dit,” of “nee-a” geuiter.
Wanneer Rooyma saam met Ouma Lappies stap, dink Ouma met heimwee aan haar Bloemjare en roep unieke sêgoed van haar skoonfamilie op. Frases soos “vier vingers deur die kuif” (iemand wat dronk is) en “dr*lletjie drie en sy orkes” laat haar skater. Ook skoonsus wat “vat so jou katvis” uitroep wanneer sy moerig raak of die blinde sambok klap.
Rooyma se pa sou haar beskuldig van “die tyd hang” of “hanna-hanna” wanneer sy koffiebestelling sloer of wanneer sy sleepvoet is en haar blus of gô kapoet is.
Onlangs het Rooypa vir Rooyma gesê die rooitaal leen haarself nie tot intensiewe vorme nie, slegs uitdrukkings. Daar is g’n Engelse weerga vir “bloedrooi” of “stroopsoet” nie.
Tot sy skok leer Rooypa, Afrikaansspreker van formaat, heel dikwels Afrikaanse woorde danksy die Wortel-woordspel en die ViVA-toep.
Dit is vir Rooyma ‘n riem onder die hart dat haar Rooymiere se maniere, soms afwesig, in Afrikaans uitgedruk word. “Dankie”, “asseblief” en “jammer” is bekende woorde in die pastorie. Maar ook “pouse”, “nou-nou” en “later” is bekend en bemind.